On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Meteoriet laat Oos-Kaapse inwoners gons

───   05:35 Mon, 26 Aug 2024

Meteoriet laat Oos-Kaapse inwoners gons | News Article
Nasa het aangekondig dat vyf asteroïde tussen 27 Augustus en 1 September 2024 naby die aarde sal verbygaan. Foto verskaf

“Die meteoriet het die see getref en ’n blou lig uitgestraal, gevolg deur ses ontploffings en flitse, voordat dit gesink het.”

Dit gons in die Oos-Kaap nadat talle mense Sondag vroeg iets in die lug waargeneem het, wat sommiges as ’n meteoriet beskryf. 

Inwoners van verskeie dorpe, wat Gqeberha, St. Francisbaai, gebiede in die Langkloof, en so vêr as Sedgefield insluit, het helder ligte en harde dondergeluide waargeneem wat die grond onder hul voete geskud het.

In die Langkloof is berigte ontvang van ’n moontlike aardbewing, wat inwoners in die middel van die nag wakker gemaak het.

Plaaslike weerkenner, Garth Sampson – ook bekend as Weather Guru – bevestig egter dat daar geen berigte van aardbewings in die streek was nie.

Volgens Sampson was die gerapporteerde aardbewing waarskynlik die meteoriet wat waargeneem is.

Getuies naby Oesterbaai berig dat hulle ’n flitsende blou lig in die lug gesien het, soos ’n vallende ster, gevolg deur die plofgeluid.

’n Bemanningslid van ’n walvisboot in die gebied skryf op sosiale media dat dit lyk of ’n meteoriet sowat 200 m van hul boot in die see neergestort het. Hy beskryf hoe die meteoriet die see getref en ’n blou lig uitgestraal het. Dit is gevolg deur ses ontploffings en flitse voordat dit gesink het.

Een Facebook-gebruiker sê sy het dit by Joubertina gehoor: “O, wow, is dit wat dit was? Ek is in Joubertina en ek het iets gehoor wat soos ’n ‘sonic boom’ geklink het. Dit het nogal lank aangehou.”

Nasa het aangekondig dat vyf asteroïde tussen 27 Augustus en 1 September 2024 naby die aarde sal verbygaan. Alhoewel daar bevestig word dat al hierdie asteroïde skadeloos is, bied hulle aan sterrekundiges ’n waardevolle geleentheid om die voorwerpe te bestudeer.

Daar word van owerhede en kundiges verwag om meer inligting te verskaf wanneer dit beskikbaar word.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.