On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Suid-Afrika se Toerismemaand in juweelprovinsie bekendgestel – VIDEO’S

───   05:45 Wed, 21 Aug 2024

Suid-Afrika se Toerismemaand in juweelprovinsie bekendgestel – VIDEO’S | News Article
“Toerisme en Vrede – 30 jaar om mense, plekke en kulture te verbind”. Foto: Zenande Mpame

“Die Noord-Kaap is waarlik ’n juweel binne ons Suid-Afrikaanse grense wat uiteenlopende ervarings bied wat in alle smake en belangstellings voorsien.”

Toerismemaand is Dinsdag (20/8) amptelik in die Batsumi-gastehuis in Kimberley bekendgestel met die tema “Toerisme en Vrede – 30 jaar om mense, plekke en kulture te verbind”.

Patricia de Lille, minister van toerisme, Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, Kagiso Sonyoni, Sol Plaatje-burgemeester, en Nondumisa Buda, Frances Baard-distriksburgemeester, het die bekendstelling bygewoon.


In Suid-Afrika word Toerismemaand elke September gevier. “Ons het hierdie pragtige provinsie gekies as die gasheer vir vanjaar se Wêreldtoerismedag-viering, nie net vanweë sy groot en wye toerismeaanbod nie, maar ook om aandag te vestig op ’n streek wat dikwels minder besoek word in vergelyking met ander in ons land,” het De Lille gesê.

‘Vir elke agt toeriste kry jy een werksgeleentheid’

“Hoewel dit minder besoek word as provinsies soos Gauteng en die Wes-Kaap, is die Noord-Kaap waarlik ’n juweel binne ons Suid-Afrikaanse grense, wat uiteenlopende ervarings bied wat in alle smake en belangstellings voorsien.”

Van die ruwe terreine van die Kalahariwoestyn tot die kleurryke blommeprag van Namakwaland is in hierdie provinsie ’n toonbeeld van natuurlike skoonheid en asemrowende landskappe, het sy gesê.

Die toerismesektor het in 2023/24 1,7 miljoen werksgeleenthede bygedra, en die mikpunt is om dit teen 2030 te vermeerder tot 2,2 miljoen.

Die minister het die verband tussen die groei in toerisme en die toename in werkskepping verduidelik. “Daar is groot potensiaal om toerisme in die provinsie te verbeter, en ons moet die basiese dinge daarvoor doen.

“Munisipaliteite moet hul dorpe skoon hou; munisipaliteite moenie hul lewensgeriewe, wat jou basiese diensinfrastruktuur is, afskeep nie.” Vir elke agt toeriste kry jy een werksgeleentheid, het sy gesê.


Gedurende die eerste week van Toerismemaand sal Sho’t Left afslag gee op besprekings op hul webwerf en pakkette sal deur die maand benut kan word.

Wêreldtoerismedag sal Vrydag 27 September op Carnarvon onder die sterre by die Square Kilometre Array (SKA), die wêreld se grootste ruimteteleskoopversameling, gevier word.

“Daar is geweldige geleenthede vir astrotoerisme in Suid-Afrika, veral in die Noord-Kaap,” het De Lille gesê. “Daarom het ons doelbewus hierdie provinsie en die dorp Carnarvon gekies.”


“Ons wil die SKA en die astrotoerisme as dryfveer gebruik om die Karoo te ontwikkel en geleenthede te bied vir plattelandse toerisme sowel as agritoerisme om die platteland verder te ontwikkel.”

As deel van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die volgende vyf jaar beoog die departement om buitelandse aankomste in Suid-Afrika teen 2030 met 15 miljoen te verhoog.

OFM Nuus/Zenande Mpame en Casey-Lee Anthony cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.