On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Thabo Bester, makkers se verhoor begin in 2025

───   HEIDRÈ MALGAS 13:32 Wed, 31 Jul 2024

Thabo Bester, makkers se verhoor begin in 2025 | News Article
Thabo Bester en sewe makkers het in die Bloemfonteinse hooggeregshof verskyn. Foto: Heidrè Malgas

“Adv. Lerato Moela, Bester se prokureur, het kapsie gemaak teen die tronktoestande waaraan sy kliënt onderwerp word.”

Die beskuldigdes in die Thabo Bester-ontsnapping se langverwagte verhoordatum is eindelik vasgestel. 

Bester en sewe makkers het Woensdag (31/7)  in die Bloemfonteinse hooggeregshof vir die voorverhoor verskyn. Adv. Amanda Bester, staatsaanklaer, het Cagney Musi, regter-president, ingelig dat die staat en die verdediging ooreengekom het dat die verhoor op 10 Februarie kan begin.

Adv. Lerato Moela, Bester se prokureur, het kapsie gemaak teen die tronktoestande waaraan sy kliënt onderwerp word en beweer dat sy reg op ’n regverdige verhoor geskend word.

Thabo Bester en adv. Lerato Moela, sy regsverteenwoordiger. Foto Kekeletso Mosebetsi

Moela het die belangrikheid van Bester se reg op regsverteenwoordiging beklemtoon en is bekommerd oor sy geestelike en liggaamlike welstand weens die toestande van sy aanhouding. In die aansoek word melding gemaak dat sy grondwetlike regte sedert sy aanhouding ernstig geskend is.

“Art. 35 van die Suid-Afrikaanse Grondwet is deel van die Handves van Menseregte wat breedvoerig handel oor die regte van mense wat in hegtenis geneem, aangehou en beskuldig word se reg op ’n regverdige verhoor.

“Enigeen wat in hegtenis geneem, aangehou of van ’n misdaad beskuldig word moet met regverdigheid, respek vir hul regte, en volgens die regproses behandel word. Dit was nie die geval vir die beskuldigde nie,” luidens die aansoek.

Nandipha Magudumana in die Bloemfonteinse hooggeregshood. Foto: Kekeletso Mosebetsi

Die beskuldigde word 23 uur per dag in afsondering aangehou in ’n kamer met ’n klein venster. Dit kan ’n diepgaande en nadelige uitwerking op enigeen se geestesgesondheid en welstand hê. Hierdie vorm van afsondering kan ernstige sielkundige gevolge inhou soos angs, depressie, hallusinasies en selfdoodgedagtes.

Musi sê hy het die aansoek gelees en Moela aangesê om seker te maak dat al die dokumente in orde is voor hy dit voorlê aan ’n ander regter wat met die saak sal voortgaan.

Alle regsverteenwoordiging is gereed vir die verhoor om te begin, maar Moela het aangevoer hy het nie genoeg tyd met sy kliënt deurgebring vir die saak om voort te gaan nie.

Dié beskuldiges is almal op borgtog vrygelaat. Foto: Kekeletso Mosebetsi

Bester se voormalige minnares, Nandipha Maguduman, en Zanda Boniface Moyo sal in aanhouding bly, terwyl Teboho Lipholo, Zolile Cornelius Sekeleni, Motenyane John Masukela en Tieho France Makhotsa se borgtog verleng is.

Hulle word onder meer aangekla van korrupsie, lykskending, hulpverlening aan ’n gevangene om te ontsnap en bedrog.

OFM Nuus/Heidrè Malgas en Kekeletso Mosebetsi dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.