On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Vier van nege ondersese internetkabels beskadig wat Suid-Afrika bedien

───   14:24 Fri, 15 Mar 2024

Vier van nege ondersese internetkabels beskadig wat Suid-Afrika bedien | News Article

“Drie kabels aan die weskus van die vasteland het gelyktydig gebreek.”

Byna die helfte van die ondersese internetkabels wat Suid-Afrika met die wêreld verbind, is beskadig ná voorvalle weerskante van die vasteland. Dit het Donderdag (14/3) tot wydverspreide internetonderbrekings in Suid-Afrika gelei.

Klein ondersese optieseveselkabels dien as inligtingsnelweë, wat die vinnige oordrag van inligting moontlik maak wat noodsaaklik is vir die behoorlike funksionering van die internet. Enigiets van rotsstortings tot verdwaalde ankers kan dié kwesbare kabels breek of beskadig. Die meeste van die wêreld se internetverkeer gaan deur dié kabels wat op die seebodem gelê is, met een van die langstes (15 000 kilometer) wat strek van Portugal tot in Suid-Afrika.


Drie kabels aan die weskus van die vasteland het gelyktydig gebreek, het Microsoft Donderdagmiddag bevestig.

In Suid-Afrika het die selfoonoperateur Vodacom op X geskryf dat die "verbindingskwessies" weens veelvuldige ondersese kabelfoute was, sonder om besonderhede te verskaf.

“Verskeie groot ondersese kabels het konneksiedienste in verskeie Wes-Afrikalande beïnvloed,” het die Suid-Afrikaanse selfoonoperateur MTN op X gesê.

MTN het probeer om internetverkeer deur "alternatiewe netwerkpaaie" te herlei en saam met vennote gewerk om die kabels te herstel. Geen besonderhede oor die skade is bekend gemaak nie.

News24 berig die oorsaak van die onderbreking is nog nie bekend nie; daar word egter geglo die kabels het in vlak water naby die Ivoorkus gebreek, waar vissersbote waarskynlik sal werk.

Die onderbreking het die grootste impak op die Ivoorkus gehad, gevolg deur Liberië, Benin, Ghana en Burkina Faso.

Volgens die wêreldwye internettoesiggroep, NetBlocks, was daar minder ernstige onderbrekings in Kameroen, Gaboen, Namibië en Niger, en tot nog ’n mindere mate in Nigerië en Suid-Afrika.

Die onderbrekings het Donderdag meeste van Suid-Afrika se grootste platforms en netwerke geraak, insluitend Google, Microsoft, Vodacom, MTN, sosialemediaplatforms en bankdienste.

OFM Nuus cg/dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.