On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

‘Glam Guru’ Hannon se man sedert Januarie vermis

───   16:10 Thu, 14 Mar 2024

‘Glam Guru’ Hannon se man sedert Januarie vermis | News Article
Hannon Bothma en Julius Swart. Foto: Instagram

“Die egpaar se verhouding word glo gekenmerk deur bewerings van mishandeling en bedrog.”

Die Glam Guru se vervreemde man is byna twee maande gelede laas gesien.

Julius Swart (59) is eers verlede week by die polisie in Bramley, Johannesburg, as vermis aangemeld. Die laaste wat hy gesien is, was op 23 Januarie in dié woonbuurt. 

Die polisie glo die vermiste Swart se selfoonrekords en bankrekening sal lig werp op waar hy kan wees, berig Netwerk24. “Dit is belangrik om uit te vind waar hy beweeg het en met wie hy laaste in aanraking was,” sê speursers. Phillip Munyai van Bramley se polisiekantoor.

Julius Swart en Hannon Bothma se huwelik was glo stormagtig.

’n Inskrywing wat Woensdag (13/3) gedeel is op die Facebook-blad van The Pink Ladies, ’n organisasie wat soek na vermiste mense, bevestig dat Swart sedert 23 Januarie vermis word.

Jacqui Thomas van The Pink Ladies sê verskeie wenke is ontvang en die moontlikheid bestaan dat hy hom op Vryburg in Noordwes bevind. Dit is nog nie bevestig nie.

Swart en Hannon Bothma, wat vennote is in die Hannon-skoonheidsproduktereeks, se huwelik het vroeg in 2022 skipbreuk gely. Hulle is sedertdien in ’n bittere egskeiding gewikkel. Die paartjie is in 2018 getroud, maar was 30 jaar in ’n verhouding.

’n Vriendin wat met Netwerk24 gepraat het, sê Swart het “regtig swaargekry”. “Hy is ’n baie sagte en sensitiewe mens, ’n soft soul. Hy is siek en het medikasie nodig.” Sy sorg vir Swart se vier hondjies by haar huis in Pretoria, maar hy het in Desember laas navraag oor hulle gedoen.

The Citizen het in 2022 berig Bothma en Swart se verhouding was “allesbehalwe glansryk” en dat dit glo gekenmerk is deur bewerings van “mishandeling en bedrog”. 

Co-owner of Hannon and alienated husband of Glam Guru MISSING

Swart en Bothma is in 2018 getroud.

“Die een oomblik het Hannon en Julius ’n 30-jaar-herdenkingpartytjie vir 300 gaste beplan; die volgende oomblik het Julius ’n aanrandingsklag teen Hannon ingedien terwyl Hannon ’n hofbevel teen Julius wou kry wat hom toegang tot hul slaapkamer en hul gedeelde instapkas verbied het.”

Die Sondagkoerant Rapport het destyds berig Bothma wou die hof vra om Swart te verbied om Bothma se skoene te dra en om hom toe te laat om eerste keuse te hê met betrekking tot uitrustings wat hulle op dieselfde dag wou dra.

Swart het luidens berigte op 23 Januarie ’n WhatsApp van Bothma gelees, maar sedertdien is sy foon af en niemand kon hom intussen in die hande kry nie. 

Volgens Bothma strook dit nie met sy persoonlikheid nie. “Julius hou daarvan om sy familie en vriende aan sy boesem te hou. Hy reik uit na mense; so hierdie is baie vreemd,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Intussen bespiegel sosialemediagebruikers op Facebook oor Swart se verdwyning. “Baie vreemd dat hulle twee maande gewag het om hom as vermis aan te meld. 

“Dit is ’n dringende saak as jou geliefde weg is en hulle met niemand in kontak is nie. Verstaan nie hoekom so lank wag nie. Normaalweg begin mens dadelik soek? Hoop hy word veilig gevind,” sê Tanya Rademan.

“Al ooit gewonder, miskien wil hy nie gevind word nie. Hy is verseker deur ’n moeilike skeisaak,” sê ene Lollapop.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.