On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Saru in hofstryd met Eskort

───   13:07 Sat, 16 Sep 2023

Saru in hofstryd met Eskort | News Article
The official Nike shirt. Photo: springboks.rugby

“As hulle ons wil ondersteun, moet hulle dit op die regte manier en deur die regte kanale doen.”

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het gewaarsku dat hy regstappe sal neem teen maatskappye wat sy intellektuele eiendomsregte verontagsaam nadat hy 'n hofbevel verkry het wat Eskort weerhou om 'n bemarkingsveldtog met die Springbok-handelsmerk en intellektuele eiendomsregte voort te sit.

Die Gautengse afdeling van die Hooggeregshof het die maatskappy beveel om dié handelsmerke van alle naamborde, bemarkingsmateriaal, goedere en/of produkte van enige aard te verwyder, insluitend baniere, plasings en publikasies op enige webwerwe, sosiale media platforms en ander elektroniese platforms.

Eskort het sedertdien die omstrede advertensie uitgevee, maar wel 'n tong-in-die-kies reaksie gehad. Die saak moet nog op 'n latere datum geargumenteer word.
 

Saru het ook daarin geslaag om aanlynkleinhandelaars van vervalste klere te sluit, wat almal Rugby Wêreldbeker-koors saam met meer gevestigde maatskappye uitgebuit het.

Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van SA Rugby, sê hulle sal doen wat hulle moet doen om hul regte te beskerm en dié van hul hoogs gewaardeerde vennote wat op die oomblik onbeskaamd in 'n hinderlaag geplaas word.


Hy sê maatskappye soos MTN en FNB, wat hulle in die moeilike tye by hulle aangesluit het, het ware steun getoon deur die Bokke finansieel te ondersteun.

“Hulle en ons uitsaaivennoot betaal ons vir eksklusiwiteit in hul sakegebied om die Springbok-handelsmerk en -logo te gebruik en toegang tot ander bates te hê.


"Dit is nie gratis om te gebruik vir enigiemand wat lus is nie, en daardie maatskappye wat die reëls van intellektuele eiendomsregte verstaan en rondom hulle dans, assosieer met die span maar sonder om die regte te oortree, is net so skadelik. As hulle ons wil ondersteun, moet hulle dit op die regte manier en deur die regte kanale doen,” het hy bygevoeg.

Saru het vroeër vandeesmaand ook ondersteuners gewaarsku daarteen om vals rugbyhemde te koop by aanlynwinkels wat beweer dat hulle “amptelik” is.

Die Springbokke sit Sondag hul Wêreldbeker-rugbyveldtog teen Roemenië in Bordeaux voort.

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.