On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Die einde van 7de Laan lok wye reaksie uit

───   ELSABÉ DE JAGER 15:53 Tue, 18 Jul 2023

Die einde van 7de Laan lok wye reaksie uit | News Article
Foto: 7de Laan (Amptelik)/Facebook

Die deuntjie wat duisende kykers saans na die kassie toe lok, is binnekort stil.

SABC2 en Danie Odendaal Produksies se skokaankondiging gister oor die einde van die pad vir ’n sepie bekender as eie familie, het landwyd wye reaksie uitgelok.

Op 26 Desember, na 23 jaar se kykplesier, sal 7de Laan vir die laaste keer in baie huise gekyk word. Die rede vir die beëindiging van die sepie moet nog bekend gemaak word.

“As ek terugdink aan 7de Laan, onthou ek Hilda se dadelvingers, Oubaas se liefde vir haar, en Charmaine se koffieplek. Dit was altyd lekker om die storie te kyk, dit was soos die lief en leed van familie wat gedeel word. Maar Hilda se dadelvingers …. Daar is ’n resep daarvoor”.

Op 26 Desember, ná 23 jaar se kykplesier, sal 7de Laan vir die laaste keer in baie huise gekyk word.

So dink Huibrie du Toit van Bloemfontein sommer al klaar met nostalgie terug aan die program wat vir haar na aan die hart lê.

Met die beëindiging van dié gewilde sepie raak hy weer opnuut bewus van die kortsigtigheid van die SAUK, en hoe hulle die lojale Afrikaanssprekende belastingbetaler in “die tande skop”, sê jarelange kyker Gerrie Maritz. Die beste ding wat met 7de Laan kan gebeur, is om geprivatiseer of gestroom te word, meen hy. Daar kan selfs plek vir die sepie ingeruim word op ’n ander televisiekanaal.


Sy gaan nie huil wanneer 7de Laan klaarmaak nie, maar voel wel jammer vir al die akteurs wat hul werk gaan verloor, laat hoor Alida uit die Noorde. Hoewel die reeks se kenwysie jare gelede die luitoon op haar foon was, voel sy dit is tyd vir aanbeweeg. Daar is genoeg ander programme wat sy ook graag kyk.

Vrystater Rian Nel sê hy het 7de Laan vier jaar gelede laas gekyk. Hy onthou egter hoe baie hy Hilda se konkoksies en Oubaas se deurmekaar kop geniet het.


“Ons is so gewoond aan 7de Laan. My hart is baie seer. Ons het elke aand daarna uitgesien.” Tshidi, klerekonsultant van Bloemfontein, was sprakeloos toe sy die slegte nuus kry.

Nog ’n Bloemfonteiner, Yolandie Britz dink op ver paaie terug wanneer 7de Laan se naam genoem word. Oubaas se gevleuelde woorde het haar laat lag. Die kyktyd het vir hulle gesin familietyd beteken.


 Breinprofielpraktisyn Annemari Strauss dink terug aan die advies wat haar kinders se skoolhoof jare gelede aan die ouers gegee het toe hulle oor die waarde van 7de Laan bespiegel het. Sy wyse antwoord volgens haar was óf ouers kyk saam met hul kinders en lig hulle rustig in oor die omstrede onderwerpe wat in die storie aangeraak word, óf die wêreld lig hul kinders in. Strauss is dankbaar vir die waarde wat daar wel in die sepie gelê het.

“Ek het vanoggend gehoor van die einde van 7de Laan. Ek kyk lankal nie meer daarna nie omdat dit nie my Bybelse waardes verteenwoordig nie. Vir my is dit ’n groot verligting dat die storie tot ’n einde kom.” Dié kyker wat verkies om anoniem te bly, spreek ook haar bekommernis uit dat 7de Laan heel waarskynlik bloot vervang sal word met ’n ander program sonder waardes.

OFM Nuus/Elsabé de Jager


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.