On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

South Africa

Phaahla ‘teleurgesteld’ dat Nehawu-staking verskerp

───   07:03 Mon, 13 Mar 2023

Phaahla ‘teleurgesteld’ dat Nehawu-staking verskerp | News Article

Die minister van gesondheid sê hy is teleurgesteld dat gesondheidswerkers met ’n verskerpte staking voortgaan.

Joe Phaahla het gereageer op ’n verklaring deur Nehawu dat die landwye stakings verskerp gaan word.

Die vakbond eis ’n 10%-loonverhoging vir sy lede, terwyl die regering volstaan met ’n 4,7%-verhoging.

Phaala het ’n beroep op vreedsame optredes gedoen sodat gesondheidsorgwerkers wat nie staak nie, hul “grondwetlike reg kan uitoefen om te werk sonder om geïntimideer of geviktimiseer te word”.

Die vakbond sê egter hulle onderhandel met mense “wat daarop ingestel is om die staatsdiens in duie te laat stort deur oorlog teen werkers te verklaar”.

Nehawu se adjunk-sekretaris-generaal, December Mavuso, sê die staking behels nie net openbare gesondheidsorg nie, maar die hele staatsdiens.

"Ek weet nie hoekom die minister van gesondheid al die dinge sê wat hy sê nie, asof die staking 'n gesondheidsorgstaking is. Dit is nie 'n gesondheidsektorstaking nie; dit is 'n staatsdiensstaking," het hy aan eNCA gesê.

“Dit is werkers van die departement van binnelandse sake en ander departemente wat staak en slegs ’n deel van die gesondheidsorgsektor – diegene wat nie as noodsaaklike gesondheidswerkers aangewys is nie.”

Haitu sluit aan by Nehawu-staking

Die Health and Allied Workers Indaba Trade Union (Haitu), wat sowat 20 000 gesondheidswerkers verteenwoordig, sal vanaf Maandag (13/3) by die staking aansluit.

Die vakbond, wat ook ’n 10%-loonverhoging eis, sê sy lede is keelvol vir die regering se reaksie op werkers se eise.

“Basiese materiaal soos medisyne, verbande, kos en skoon beddegoed in gesondheidsorg fasiliteite is gereeld uit voorraad. Toestande word vererger deur gereelde beurtkrag en waterbesnoeiings, en dit het ’n direkte uitwerking op pasiëntesorg.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.