On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

Boere gee liefde weer ’n kans

───   16:36 Tue, 17 Jan 2023

Boere gee liefde weer ’n kans | News Article

Vyf uit vanjaar se tien alleenloper-boere, wat vir “Boer Soek ‘n Vrou” ingeskryf het, is uit sentraal-Suid-Afrika afkomstig.

Dié werklikheidsreeks is een van Suid-Afrika se gewildstes. Die 15de seisoen begin Donderdag, 19 Januarie 2023 om 20:00 op kykNET.

Kykers gaan ná 13 episodes hopelik kan gesels oor ’n suksesvolle oes, maar soos wat dit met enige boerdery gaan, is die liefde ook onvoorspelbaar en is ’n misoes of twee moontlik. Dié reeks beloof, soos in die verlede, genoeg liefdesdrama en -intriges.

Vrystaatse boere sluit in Kotie van Harrismith en Philru van Petrus Steyn; Noord-Kaapse boere word deur David van die Augrabies en Rampie van Modderrivier verteenwoordig; en dan is daar Louis B. van Ottosdal in Noordwes.

Sedert 2008 volg kykers getrou die lief en leed van boere wat na liefde hunker, en die reeks het met groot sukses daarin geslaag om weer talle mense se geloof in ware liefde te herbevestig.

15 springmieliefeite oor Boer soek ’n Vrou:

1. Op 30 September 2008 is die eerste episode van Boer Soek ’n Vrou op kykNET uitgesaai. Kykers het egter ’n paar maande tevore, op 14 Julie, vir die eerste keer met die reeks kennis gemaak toe ’n loodsepisode van die tien boere wat liefde soek, gewys is.

2. Wanneer die 15de seisoen vanjaar uitgesaai word, beteken dit dat 150 hubare boere op soek na liefde en hul lewensmaat al sedert 2008 op die kassie verskyn het.

3. Boer soek ’n vrou is op ’n internasionale formaat gebaseer en word in tientalle lande vervaardig. Dit is die eerste keer 2001 in Brittanje as Farmer wants a Wife uitgesaai. 

4.  In Suid-Afrika is die vervaardigers bewus van ten minste 25 suksesverhale van boere wat danksy hul deelname aan die reeks die pad na die kansel gestap het. Dit maak die plaaslike weergawe van dié maatsoekreeks een van die suksesvolste ter wêreld. Australië se weergawe van Farmer wants a Wife het teen 2022 oor 12 seisoene nege huwelike opgelewer. 

5.  Boer Joachim, wat in die eerste seisoen verskyn het, het tot dusver die meeste briewe nog ontvang.  

6.  Talle vroueboere het oor die jare ingeskryf, maar eers in 2018 het boer Toanette die eerste vroueboer geword om genoeg briewe te ontvang om onder die top-vyf boere (wie se liefdespaadjies in die reeks gevolg word) geplaas te word.

7.  Die eerste openlike gay boer, Damian, het in 2019 vir die twaalfde reeks ingeskryf. Hy het boonop in daardie seisoen ook die meeste briewe ontvang.

8.  Ses aanbieders het die afgelope 15 jaar die land deurkruis om boere in hul soeke na liefde by te staan. Hulle was: Elma Postma (2008-2010), Angelique Gerber (2011-2013), Nadia Beukes (2014-2015), Minki van der Westhuizen (2016-2017), Leah van Niekerk (2018-2019) en Marciel Hopkins (vanaf 2020 tot op hede)

9.  Die aanbieders van Boer soek ’n Vrou verskyn in gemiddeld 50 verskillende uitrustings tydens die verloop van die produksie.

10. Ter viering van die reeks se 10de seisoen in 2017 het die musikant Schalk Joubert die bekende temalied met ’n vars weergawe opgekikker.

11. In 2020 het die Covid-19-pandemie ook ’n impak op die reeks gehad en is produksie tydelik tot ’n halt geroep. In die verlede is Boer soek ’n Vrou meestal vanaf Oktober tot Januarie uitgesaai, maar weens die vertraging in produksie is die 13de seisoen eers vanaf Januarie 2021 uitgesaai.

12. Ook weens die pandemie, en anders as tevore waar die boere briewe en pakkies in persoon ontvang het, kon voornemende pasmaats in seisoen 13 net in digitale formaat hulself aan die boere bekendstel.

13. Die provinsie wat oor die jare die meeste boere vir die reeks opgelewer het, is die Wes-Kaap, wat gevolg word deur die Vrystaat en Noord-Kaap.

14. Pasmaats doen gewoonlik baie moeite om die boere se aandag met hul pakkies en briewe te trek. Maar vreemde geskenke het al hul opwagting gemaak, waaronder boeie met pienk vere en onderklere met die voornemende pasmaat se gesig daarop.

15. Oor 15 jaar is daar algeheel sowat 600 000km deur die vervaardigingspan afgelê soos hulle die land deurkruis het om boere te help om liefde te vind. Dit is byna maan toe en terug. Die maan is sowat 384 400km van die aarde.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.