On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Oudminister Adriaan Vlok in Centurion oorlede

───   12:05 Sun, 08 Jan 2023

Oudminister Adriaan Vlok in Centurion oorlede | News Article
Wyle oudmin. Adriaan Vlok is in 2007 ’n tien jaar opgeskorte vonnis opgelê vir die poging tot moord in 1989 op die kerkleier eerw. Frank Chikane. Die verhoor het plaasgevind in die hooggeregshof in Pretoria/FOTO: Paballo Thekiso/AFP

Oudminister Adriaan Vlok is vroeg Sondagoggend (8 Januarie 2023) in die ouderdom van 85 jaar in Centurion oorlede.

Dr. Leon Wessels, ’n voormalige kollega in die kabinet van wyle oudpres. F.W. de Klerk, het die nuus aan Netwerk24 bevestig.

Vlok word veral onthou as minister van wet en orde vanaf 1986 in die kabinet van wyle oudpres. P.W. Botha toe sy departement verantwoordelik was vir die onderdrukking van landwye opstande tydens meer as een nasionale noodtoestand. Hy was ook verantwoordelik vir die omstrede Nasionale Sekuriteitsbestuurstelsel en die inperking in Februarie 1988 van 17 buiteparlementêre organisasies.

Die veteraan- politieke ontleder Harald Pakendorf het in reaksie op Vlok se dood aan OFM-nuus gesê Vlok het hom onderskei as ’n goeie administratiewe minister. “Hy was baie getrou aan apartheid en in die uitvoering daarvan.” Maar toe dit hom tref watter onreg dié beleid was, “het hy die Christelike ding gedoen en gesê: ‘Ek is jammer.’”

Vlok se posisie as minister het veral ná die ontperking van die ANC en ander organisasies begin 1990 ál meer omstrede geraak. Tydens die onderhandelinge wat uitgeloop het op die nuwe bedeling het die ANC aangedring op sy ontslag. De Klerk het deels toegegee deur hom in Julie 1991 minister van Korrektiewe Dienste te maak.

Die Waarheids- en Versoeningskommissie het in 1999 amnestie aan hom toegestaan nadat hy die enigste minister uit die apartheidsera was wat erken het hy was skuldig aan kriminele bedrywighede.

In 1996 het hy verskoning gevra vir ’n aantal dade wat hy nie by die WVK bely het nie. In ’n dramatiese gebaar het hy die voete gewas van eerw. Frank Chikane, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, maar in 2007 bevind die hooggeregshof hom skuldig aan die sameswering in 1989 om dié kerkleier en anti-apartheidsaktivis om die lewe te bring. Vlok word ’n opgeskorte vonnis van 10 jaar tronkstraf opgelê.

Dié boorling van Sutherland in die Noord-Kaap word oorleef deur sy vrou, Antoinette, drie kinders, vier kleinkinders en een agterkleinkind.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.