Agriculture
Studie belig polisiekorrupsie in landelike gebiede─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Tue, 22 Apr 2025

Deur groter bewustheid en deursigtigheid hoop navorsers ’n studie kan bydra tot verbeterde dienslewering en misdaadvoorkoming in landelike Suid-Afrika.
’n Onlangse studie, gepubliseer in die joernaal Acta Criminologica: African Journal of Criminology & Victimology, het lig gewerp op die voorkoms van polisiekorrupsie in landelike gebiede en die negatiewe impak daarvan op dienslewering en die funksionering van polisiekantore.
Dr. Kobus Schwartz, een van die outeurs van die verslag en ’n ervare kenner in die veld, het meer besonderhede oor die studie met OFM Agri gedeel.
Agtergrond en metodologie
Volgens dr. Schwartz het die studie ontstaan ná ’n landelike beveiligingsberaad in 2022 in Parys, Vrystaat waar gemeenskapsorganisasies en boere hul kommer uitgespreek het oor die gebrek aan vertroue in die polisie. Dit het navorsers aangespoor om die aard van polisiekorrupsie en swak dissipline in die platteland te ondersoek.
Die studie is oor ’n tydperk van drie maande uitgevoer en het onderhoude ingesluit met boere, polisielede, gemeenskapslede, private sekuriteitsmaatskappye en plaaswagte. Navorsers het 18 dorpe regoor Suid-Afrika besoek, uitgesonderd die Noord-Kaap en Gauteng.
Een van die primêre bevindinge was die sigbare onwilligheid van polisielede om gemeenskappe by te staan. Hierdie gebrek aan dissipline het dikwels gelei tot korrupte praktyke, insluitend die beskerming van misdadigers en die versuim om misdade te ondersoek.
Bevindinge van die studie
Dr. Schwartz het verduidelik dat polisiekorrupsie in landelike gebiede dikwels op subtiele maniere manifesteer. Dit sluit in:
- Die weiering om sake vir klaers te open.
- Traagheid in optrede, wat klaers ontmoedig om misdaad aan te meld.
- Polisielede wat aktief misdadigers beskerm of waarsku oor komende arrestasies.
- Intimidasie van getuies en klaers om hulle te keer om korrupsie aan te meld.
Die studie het ook gevind dat daar in sommige polisiekantore ’n verdeling onder lede is. Terwyl sommige polisielede toegewyd is en selfs privaatvoertuie en persoonlike tyd gebruik om gemeenskappe te beskerm, is daar ander wat doelbewus verdeeldheid skep en korrupsie bevorder.
Aanbevelings vir gemeenskappe en die polisie
Navorsers beveel aan dat gemeenskapslede enige vorm van swak dienslewering of korrupsie aanmeld. Dr. Schwartz beklemtoon dat dit belangrik is om dit professioneel en sonder dreigemente te doen. As daar geen reaksie op ’n klagte is nie, moet dit na ’n hoër vlak, soos die provinsiale of nasionale polisie-afdelings, verwys word.
Die polisie word ook aangemoedig om streng op te tree teen korrupte lede en om dissiplinêre aksie te neem teen enige vorm van misbruik van mag. Daar is reeds na die studie ’n aantal arrestasies gemaak in verband met polisiekorrupsie.
Volgens dr. Schwartz is dit noodsaaklik dat die publiek en die polisie saamwerk om korrupsie te bekamp. “Korrupsie groei nie vanself nie; dit floreer in ’n omgewing waar dit toegelaat word.”
OFM Agri mvh