On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Goeie reën stel Vrystaatboere in staat om mielies en soja volstoom aan te plant

───   ROBYN SCHUTTE 06:00 Tue, 29 Oct 2024

Goeie reën stel Vrystaatboere in staat om mielies en soja volstoom aan te plant | News Article
Boere in dele van die Vrystaat het onlangs volstoom met die aanplanting van mielies en sojabone begin, danksy goeie onlangse reënval. Foto verskaf

Die aanplantseisoen vir mielies en sojabone is in volle gang in dele van die Vrystaat, danksy onlangse goeie reënval.

Boere in dele van die Vrystaat het onlangs volstoom met die aanplanting van mielies en sojabone begin, danksy goeie reënval wat wissel tussen 30 en 55 millimeter in distrikte soos Bethlehem en Ficksburg. Hendrik Knobel, Vrystaat Landbou se streekverteenwoordiger vir die Dihlabeng-distrik, het aan OFM Agri vertel dat onlangse gunstige weerstoestande aanplantings goed laat afskop het.

Volgens Knobel vorder die aanplantings goed, met boere wat op verskeie maniere werk – sommige plant beide soja en mielies gelyktydig, terwyl ander eers fokus op soja en dan oorbeweeg na mielies.

“Ons het redelike goeie reën gehad in die Bethlehem-distrik, wat wissel van 30 tot 55 millimeter. Die ouens plant regtig nou baie lekker.”

Tog bring die seisoen ook uitdagings. Knobel verduidelik dat sterk winde en stofstorms, vererger deur gronderosie, die afgelope naweek groot hoeveelhede stof in die lug opgetel het.

Hy noem dat die reën ook ’n harde lagie op vars bewerkte grond skep, wat maklik kan wegwaai. “Dis maar die aard van die seisoen, en daar’s nie veel wat ’n mens daaraan kan doen nie.”

Nog ’n uitdaging wat boere in ag neem, is die moontlikheid van snywurm, wat in vorige seisoene groot skade aan jong plantjies veroorsaak het. “Boere is nou ekstra versigtig en gebruik chemiese stowwe om die snywurmprobleem te bekamp.”

Ongeag van sterk winde en stofstorms, wat vererger word deur gronderosie, wat die afgelope naweek groot hoeveelhede stof in die lug laat op tel het, bly boere in die Vrystaat optimisties oor vanjaar se plantseisoen. Foto verskaf

Algehele optimisme heers egter onder die boere in die Dihlabeng-streek, wat hoop op goeie opbrengste mits die reënval konstant bly. Knobel sê dat alhoewel mielie- en sojaboonpryse nog kan verbeter, is boere tans minder gefokus op bemarking en meer daarop ingestel om hul oeste so vinnig moontlik in die grond te kry.

Hy verduidelik verder dat elke streek se optimale planttyd verskil, met die Dihlabeng-distrik se tydperk wat gewoonlik tussen middel Oktober en einde November val.

Volgens Vrystaat Landbou is die meeste besproeiingsmielies reeds geplant. In die Dihlabeng-streek is droëland-aanplantings in volle gang, en soortgelyke vordering word ook in die Ficksburg-area gesien. In ander dele van die Vrystaat het onvoldoende reënval egter veroorsaak dat droëland-aanplantings nog nie op dieselfde skaal kon begin nie.

Boere in die Fouriesburg-distrik het ook opgewonde die plantseisoen verwelkom na onlangse gunstige weerstoestande. Foto verskaf

Knobel merk ook op dat daar ’n toename in sojaboontoeplantings in die streek gesien word, terwyl koringaanplantings aanhou afneem weens die hoë risiko wat dit in die Vrystaatse klimaat inhou.

“Soja toon beslis ’n opwaartse kurwe, veral omdat al hoe minder ouens bereid is om koring te plant.”

OFM Agriculture/Robyn Schutte

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.