On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Ashmund
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: ’n Boer se vrou is ’n baken van hoop

───   05:00 Thu, 08 Aug 2024

Vroue in Landbou: ’n Boer se vrou is ’n baken van hoop | News Article
Magda du Plessis Foto: verskaf

“As jy modder in jou hande het, bou daarmee. Moenie ander daarmee gooi nie.”

Magda du Plessis, ’n boer se vrou uit die hartjie van die Vrystaat, Zastron, deel haar insig oor die rol van vroue in die landboubedryf, spesifiek in ’n tyd waarin Suid-Afrika die waarde van vroue vier tydens Vrouemaand.

OFM Agri het Du Plessis gevra om die verskil tussen ’n boervrou en ’n boer se vrou te verduidelik. Sy het met ’n glimlag geantwoord: “Ek is nie ’n boervrou nie, ek is ’n boer se vrou. Daar is baie oulike boervroue in Zastron wat self boer, maar my rol is om my man te ondersteun en die administrasie van ons boerdery te hanteer.”

Du Plessis het beklemtoon dat hoewel sy nie fisies by alle boerderyaktiwiteite betrokke is nie, haar rol in die bestuur van die plaas en die ondersteuning van haar man net so belangrik is. “Dit is belangrik dat daar ’n eenheid moet wees tussen man en vrou, al help jy nie fisies op die plaas nie, moet jy ondersteun met wat jou gawe en jou talent is.”

Anders as die algemene persepsie van ’n afgesonderde lewe op ’n plaas, deel Du Plessis dat haar dag dikwels in die dorp begin, waar sy betrokke is by hul familiehotel wat as ’n toevlugsoord vir die gemeenskap dien. “Ons Hotel is eintlik meer soos ’n herberg, ’n veilige plek waar mense kan ontspan en net hulself kan wees.” Dit is ook hier waar boere en hul vroue bymekaar kom, nie net om ’n koppie koffie te geniet nie, maar om weer moed te skep.

Du Plessis is ook betrokke by ’n kontrei-winkel, ’n inisiatief wat deur vroue in die gemeenskap ondersteun word. “Ons het ses-en-vyftig vroue wat produkte aan ons winkel lewer. Daar is ietsie van alles, van fudge tot gemmerkoekies. Dit is ’n manier waarop ons hoop bring, nie net vir ons kontrei nie, maar vir almal rondom ons.”

In haar boodskap aan ander vroue, beklemtoon Du Plessis die belangrikheid van omgee en ondersteuning, veral in tye van uitdagings soos swak pryse en brande. Sy moedig vroue aan om hul plek vol te staan en hul rol as ondersteuner ernstig op te neem. “Ons moet agter ons mans staan. Vat wat jy het en doen wat jy kan daarmee. As jy modder in jou hande het, bou daarmee. Moenie ander daarmee gooi nie. Blom daar waar jy geplant is. Doen wat jy moet doen en moenie die heeltyd sit en kla daaroor nie. Vat wat jy het en maak die beste daarvan.”

OFM Agri/Johan Gunter cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.