On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Ashmund
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Vroue in Landbou: Vrystaat Landbou se dr. Buys help veiligheid verseker

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Wed, 07 Aug 2024

Vroue in Landbou: Vrystaat Landbou se dr. Buys help veiligheid verseker | News Article
Dr. Jane Buys in haar kantoor by Vrystaat Landbou. Foto: OFM

“Wanneer ’n mens hierdie dame vir die eerste keer ontmoet, kry jy die indruk van ’n statige vrou, maar ook ’n rateltaai raakvatter wat nie gaan lê nie.”

Dr. Jane Buys is nou al bykans ’n dekade as veiligheidsrisikoanalis betrokke by Vrystaat Landbou en dien die landbougemeenskap met woord en daad. 

Haar navorsing en opleiding is van kardinale belang vir die volhoubaarheid van die sektor, wat, veral in die Vrystaat, sy eie unieke uitdagings het wat veiligheid betref.

Buys is gebore en getoë in die Noord-Kaap, en het haar naskoolse opleiding op Stellenbosch begin. Daarna het sy die Kaapse wynlande vir die mielelande verruil om uiteindelik by die Universiteit van die Vrystaat ’n doktorsgraad in Geskiedenis te behaal.

Ná universiteit het Buys by die polisie aangesluit en was sy onder meer byna twee dekades betrokke by die destydse veiligheidspolisie en misdaadintelligensie. Toe sy ’n advertensie vir veiligheidsrisikoanalis sien, het sy geweet dis waarheen sy nou moet gaan.

Die landbousektor was nie ’n volkome nuutjie vir Buys nie, aangesien haar pa destyds, aan die einde van haar laerskooldae, ’n plaas gekoop het. Sy was egter nooit vreeslik betrokke by die boerdery nie en het eers by Vrystaat Landbou werklik op voetsoolvlak met die verskillende bedrywe kennis gemaak.

Inligting en die patrone wat dit vorm, is Buys se kos. Sy vertel passievol hoe georganiseerde landbou en verhoudings wat met alle rolspelers gevorm word, sorg dat gemeenskappe veilig bly.

“Ons het drie jaar terug begin met die opleiding en bemagtiging van die boerderygemeenskappe deur die ‘Ou Huis en Haard Beskerming’-opleiding, wat ons in samewerking met LGV ontwikkel het.” 

Hierdie opleiding fokus op die ontwikkeling van sektore en sektorleiers binne elke gemeenskap, asook die opstel van ’n veiligheidskomitee en -verteenwoordiger.

Vrystaat Landbou se dr. Jane Buys voor haar reusekaart wat plaasmoorde in Suid-Afrika sedert 1950 aanteken. Foto: OFM

“Die doel is om ’n landelikebeveiligingsplan te aktiveer en vinnig op te tree in geval van ’n plaasaanval. Ons het ook aksiegroepopleiding geïmplementeer, wat ’n tweede fase van ons opleiding is.

“Dit is van kardinale belang om voortdurend opleiding en bemagtiging te bied.”

Benewens opleiding het Buys die belang van samewerking met die polisie beklemtoon. Sy verwys na ’n inisiatief wat verlede jaar geloods is om privaat ondersoekers in te span om veediefstal te bekamp.

‘Kommunikasie bly ’n sleutelkomponent van ons strategie’

Gevra oor die lesse wat sy oor die afgelope dekade geleer het, antwoord Buys dat elke dag nuwe uitdagings bring. “Elke dag moet ons aanpas en verander. 

Inligting is onontbeerlik en dit is krities dat ons dit saamvoeg om ’n groter prentjie te bou. Kommunikasie bly ’n sleutelkomponent van ons strategie.”

Gevra oor haar nalatenskap, het Buys nederig geantwoord: “Ek dink ons is almal geskape om om te gee vir ander mense en ons moet dit wys deur ons aksies. Ek hoop dat ek ’n nalatenskap van aanpasbaarheid en ’n deurlopende leerproses sal los.”

Dr. Buys se toewyding aan die veiligheid en vooruitgang van die landbousektor is duidelik merkbaar. Haar werk het alreeds ’n groot impak op die Vrystaatse landbougemeenskappe gemaak, en haar nalatenskap van kennis, bemagtiging en aanpassing sal sekerlik vir jare voortleef.

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.