On Now
Weekends 19:00 - 20:00
Nuut in Afrikaans Nadine
NEXT: 20:00 - 22:00 Sunday Night with Nadine
Listen Live Streams

Agriculture

Geveerdes pronk breëbors in Bloemfontein

───   08:57 Fri, 28 Jun 2024

Geveerdes pronk breëbors in Bloemfontein | News Article
Dié eend is met die topprys vereer. Foto verskaf

"Eerste keer in 30 jaar dat ’n watervoël die hoogste eer ontvang."

Bloemfontein word vanjaar bederf met die 75ste Nasionale Sierduifskou, asook die 106de Nasionale Pluimveeskou wat op die Bloemskougronde plaasvind.

Hierdie geleentheid het talle pluimvee- en duiwetelers van oor die land heen gelok na Bloemfontein waar hulle twee dae lank die beste van Suid-Afrika se pluimvee en duiwe kon uitstal.

By die Sierduifskou is 1 155 duiwe van 72 verskillende rasse deur 65 vertoners ingeskryf en vanuit tien streke. In die senior afdeling word 74 duifrasse verteenwoordig en 14 duifrasse in die junior afdeling.

Hennie Hatting, die skousekretaris en voormalige nasionale president van die sierduifvereniging, sê elke duif word beoordeel op grond van ’n geskrewe standaard wat uniek is aan sy ras. Beoordelaars moet ’n geskrewe en praktiese toets slaag om ’n ras te kan beoordeel.

Die duiwe is in spesiale hokkies uitgestal en het gewissel in grootte en voorkoms, van groot duiwe tot klein duiwe.

Die pluimveeskou, georganiseer deur die Bloemfontein Pluimvee Klub onder voorsitterskap van Lukas van Niekerk, het ’n rekord 2 623 inskrywings gehad. Van Niekerk het verduidelik dat die pluimveeskou verskeie tipes pluimvee insluit, soos hoenders, kalkoene, ganse en eende. Elke ras het sy eie standaarde en die beoordeling sluit in ’n deeglike inspeksie vir enige defekte.

Hierdie jaar het ’n Grey-eend gewen. Dit is volgens Van Niekerk die eerste keer in sy 30 jaar betrokkenheid by die skou dat ’n watervoël die hoogste eer ontvang het. Een van die beoordelaars was van Amerika en was deur een van die lede genooi.

Hierdie skoue bied nie net 'n geleentheid vir entoesiaste om hul beste voëls te vertoon nie, maar ook om kennis en ervaring te deel en internasionale bande te versterk. Met beide die suurduifskou en die pluimveeskou wat ‘n groot sukses was, lyk dit of Bloemfontein 'n gereelde tuiste kan wees vir sulke prominente gebeurtenisse.

OFM Agri/Johan Gunter dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.