On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Suid-Afrika daag EU-sitrusregulasies uit by Wêreldhandelsorganisasie

───   05:00 Thu, 27 Jun 2024

Suid-Afrika daag EU-sitrusregulasies uit by Wêreldhandelsorganisasie | News Article
Foto: Getty Images

“Die uitsonderlike kwaliteit van plaaslike sitrus het dit internasionaal gesog gemaak.”

Suid-Afrika het op ’n vergadering van die geskilbeslegtingsliggaam van die Wêreldhandelsorganisasie die instelling van twee panele versoek om, wat volgens die land onsinnige en diskriminerende maatreëls van die Europese Unie op sitrusinvoer vanaf Suid-Afrika te ondersoek.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, en die Sitrusprodusentevereniging van Suider-Afrika het in ’n gesamentlike verklaring gesê dat hierdie stappe gedoen is om die EU se regulasies oor twee aparte plantgesondheidskwessies aan te spreek: Sitrus Swartvlek en Valskodlingmot. Die regulasies word deur die Suid-Afrikaanse regering uitgedaag om die lewensbestaan van tienduisende mense in die plaaslike sitrusbedryf te beskerm.

Tans spandeer Suid-Afrikaanse sitrusprodusente miljarde rande per jaar om te voldoen aan die maatreëls wat die bedryf as onsinnig en onnodig beperkend beskou, aangesien Suid-Afrika reeds ’n effektiewe wêreldklas risikobestuurstelsel het wat veilige sitrusuitvoer verseker. Opkomende sitrusprodusente word veral hard getref deur die EU-maatreëls.

Sitrus Swartvlek. Foto: Wikipedia

Die versoek om die instelling van die twee panele is ’n betekenisvolle verwikkeling. Dit is die eerste keer dat Suid-Afrika ’n geskil by die WGO dryf tot verder as die paneelstadium van die gevestigde dispuutproses.

Op 15 April het Suid-Afrika konsultasies met die EU oor die swartvlek-kwessie versoek, wat ’n proses begin het maar sonder enige resultate geëindig het. Oor die mot het Suid-Afrika konsultasies in Julie 2022 geïnisieer, ook sonder bevredigende uitkoms. ’n Paneel sal nou ook oor hierdie kwessie gestig word. 

Hoewel die EU nie tans Suid-Afrika se versoek vir die twee panele aanvaar het nie, is die vasgestelde prosedure dat die versoekte beslegtingpanele by sy volgende vergadering in Julie 2024 ingestel sal word. ’n Paneelverslag kan gewoonlik ná nege maande verwag word.

Die regering se verteenwoordigers het hierdie week die regsgrondslag van hul klagte by die WGO-hoofkwartier in Genève herhaal. Dit sluit die volgende argumente in:

  • Die maatreëls is nie op wetenskaplike beginsels gebaseer nie en word gehandhaaf sonder voldoende wetenskaplike bewyse.
  • Die maatreëls word toegepas op ’n wyse wat nie in ooreenstemming is met die bepalings van die Ooreenkoms oor die Toepassing van Sanitêre en Fitosanitêre Maatreëls, waarvan die EU ’n ondertekenaar is nie.
  • Die EU versuim om die maatreëls op ’n eenvormige, onpartydige en redelike wyse toe te pas.
  • Die maatreëls is meer handelsbeperkend as wat nodig is om beskerming te bied, en daar is redelik beskikbare alternatiewe wat tegnies en ekonomies haalbaar is, wat beskerming op ’n beduidend minder handelsbeperkende wyse sou bereik.

Die Suid-Afrikaanse regering het die ondersteuning van die Sitrusprodusentevereniging. “Verlede jaar het ons 36% van al ons sitrus na die EU uitgevoer. Dit wys wat ’n belangrike mark dit vir ons produsente is. Dit is die fondasie van sitruswinsgewendheid in Suid-Afrika. Sou die EU voortgaan met die implementering van hierdie maatreëls, of dit op enige manier verskerp, sal die winsgewendheid van honderde produsente negatief geraak word en die bedryf sal ernstige inkomste- en werksverliese ly. 

“Maar dit is ook potensieel goeie nuus vir die Europese verbruiker. Hul lemoenpryse verlede somer was die hoogste van alle tye. As hul toevoer onbelemmerd is, sal verbruikers baat,” het Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die CGA, gesê.

“Die sitrusbedryf ondersteun 140 000 werksgeleenthede net op plaasvlak,” het Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling verduidelik. “Die regering tree op om hierdie lewensbestaan en die sentrale rol wat die sitrusbedryf in soveel van ons landelike gemeenskappe speel te beskerm.”

Die waarnemende direkteur-generaal van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, Malebo Mabitje-Thompson, het die regering se optrede by die WGO verder verduidelik: “Die EU se maatreëls oor CBS en FCM is nie geregverdig, proporsioneel of toepaslik nie. Dit moet egter verstaan word dat die WGO-proses nie konfronterend of aggressief is nie. Die doel is wetenskaplike waarheid en billikheid. Ons maak gebruik van die WGO-meganismes tot ons beskikking om 'n vriendskaplike oplossing te vind.”

Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf gaan tans sy piek uitvoerseisoen binne met lemoene wat na die hawens op pad is. Daar word geskat dat Suid-Afrika vanjaar ’n totaal van 170 miljoen 15 kg kartonne sal uitvoer. Die uitsonderlike kwaliteit van plaaslike sitrus het dit internasionaal gesog gemaak. Suid-Afrika is die wêreld se tweede grootste uitvoerder van sitrus.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.