On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Veerkragtigheid deel van Suid-Afrikaners se DNS

───   ROBYN SCHUTTE 08:31 Wed, 08 May 2024

Veerkragtigheid deel van Suid-Afrikaners se DNS | News Article
Suid-Afrikaners het die veerkragtigheid om te oorleef en te floreer te midde van enige uitdagings wat op hulle pad kom. FOTO: iStock

Suid-Afrikaners is van nature veerkragtig en sal nie skroom om uitdagings aan te pak om hul voortbestaan te verseker nie.

Tydens die SA Stamboek IQ Elite Seminaar met die tema “Veerkragtige Veeproduksie in ’n Veranderende Wêreld”, wat onlangs in Bloemfontein aangebied is, het die mederedakteur van Vrye Weekblad, Anneliese Burgess, ’n kragtige toespraak gelewer wat die aandag gevestig het op die veerkragtigheid van Suid-Afrikaners te midde van uitdagings.

Burgess het die vraag gestel: "Is Suid-Afrikaners veerkragtig?" en het sonder aarseling die antwoord as ’absoluut ja’ bestempel. Sy het nie net op haar eie joernalistieke ervaring vertrou nie, maar het ook haar eie persoonlike ervaring in landelike gemeenskappe beklemtoon.

Sy het ’n aangrypende prentjie geskets van ’n gemeenskap waar die staat se teenwoordigheid misluk het. Munisipale dienste is onbetroubaar, drinkwateraanlegte het ineengestort, en die polisie verskyn skaars wanneer sekuriteitskwessies na vore kom. Tog, in hierdie skynbaar hopelose situasie, het die gemeenskap nie gewankel nie. Inteendeel, het hulle ingetree om die gaping te vul wat ’n verdwynende staat agtergelaat het.

 

Die sleutel tot hierdie volgehoue veerkragtigheid is volgens Burgess tweeledig. Eerstens, het die privaatsektor, insluitend boere en besighede, ’n leidende rol geneem in die hantering van sake wat voorheen deur die staat behartig is. Tweedens, het Suid-Afrikaners bewys dat hulle meer konstruktief is en beter verhoudings met mekaar het as wat algemeen aanvaar word.

Sy verwys na Landbouweekblad se “Oplossings vir die Suid-Afrikaanse Platteland”-kongres, en vertel van die vreugdevolle opkoms van ’n stille revolusie wat sy in die burgerlike samelewing sien. Van Johannesburg se pogings om die sentrale sakekern te herleef tot plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums wat toenemend betrokke raak, is daar duidelike tekens van mense wat nie net toekyk nie, maar optree om positiewe veranderinge in hul gemeenskappe te bring.

Burgess haal die ou gesegde, “nood leer bid” aan, maar voeg ook by “dat nood ons toelaat om met mekaar te praat”. Die boodskap wat Burgess bring, is duidelik: Suid-Afrikaners het die veerkragtigheid om te oorleef en te floreer te midde van enige uitdagings wat op hulle pad kom. Hoewel dit nie ideaal is dat die publiek die rol van die regering moet oorneem nie, het die Suid-Afrikaanse samelewing bewys dat hulle nie wag vir ’n redder nie, maar eerder aktief optree om hul eie toekoms te skep.

In ’n land wat deur politieke en sosiale onstabiliteit gekenmerk word, is daar tog ’n ligpunt van hoop: die veerkragtigheid en die gemeenskaplike samewerking van Suid-Afrikaners wat bewys dat hulle nie net kan oorleef nie, maar ook kan floreer te midde van uitdagings.

OFM/Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.