On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Warm weer, puik aanbieding bring rekordgetal na NAMPO 2024

───   10:00 Sat, 18 May 2024

Warm weer, puik aanbieding bring rekordgetal na NAMPO 2024 | News Article
Besoekers op NAMPO Park in Mei 2024. Foto: Graan SA

Die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond het vanjaar weereens sy reputasie gestand gedoen en die meeste besoekers nog het deur die hekke gestroom.

Graan SA se NAMPO Oesdag, wat op NAMPO Park buite Bothaville aangebied word, is 14 – 17 Mei 2024, deur ’n totaal van  86 474 mense besoek.

“Ons is geseën met ’n baie goeie NAMPO, ons het nog elke dag beter syfers as die vorige jaar gehad. Ek dink ’n groot bydraende faktor was die weer wat dit ’n wonderlike ervaring gemaak het,” vertel Dirk Strydom, hoof van bemarking, NAMPO en navorsingskoördinering by Graan SA.

Hoewel die hoeveelheid voete dui op die gewildheid van die gebeurtenis, lê die eintlike waarde daarvan in die hoeveelheid besigheid wat gedurende die week gedoen word.

 

“Die terugvoer wat ons vanaf uitstallers kry, is dat hulle regtig gelukkig is; dat hulle goeie gesprekke gehad het, goeie netwerkgeleenthede gehad het, en dat hulle ook goeie besigheid gedoen het.”

Produsente kon ook die nuutste tegnologie in die bedryf van nader beskou en ook vergelykings tussen verskillende handelsmerke en toepassings tref.  

“Dis lekker om te sien almal kuier ’n storm los. Dit lyk soos ’n familie reünie en dis ’n kuier van ’n ander wêreld. Ek’t vroeër met iemand op die gronde gesels en hulle sê een van die goed wat hulle die meeste van hou, is die feit dat hulle weet hulle gaan definitief mense raakloop wat hulle lanklaas gesien het,” noem Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, wat sy eerste NAMPO in hierdie amptelike hoedanigheid bygewoon het.

“Die tegnologie is verstommend. Hier's trekkers wat hulself bestuur, outomatiese reënmeters wat jou bel om te sê hoeveel dit gereën het, verskillende kultivars. Op die ou einde gaan dit als oor tegnologie. Ons moet op die voorpunt bly. Ons kry nie baie subsidies nie en ons ding mee met al die boere in die wêreld. So ons moet goeie besluite neem hier.”

Benewens die tegnologie, gaan NAMPO ook oor verhoudinge bou. “Dis hierdie saamstaan, hierdie samehorigheid, hierdie gemeenskap wat ons saam het wat landbou in Suid-Afrika vorentoe vat.”

“Dis ongelooflik om te sien hoe die terrein lyk, hoeveel moeite die uitstallers gedoen het. Dis net ’n fees om by Nampo te wees hierdie jaar. Die uitstallers is baie tevrede. Dit het baie goed gegaan met die skou, die mense geniet dit. Die besighede het goed gedoen, ek dink hierdie hele skou was ’n hoogtepunt vanjaar,” sê Danie Minnaar, NAMPO Oesdag voorsitter.

Om die Nampo ekspo in beeld en klank vas te vang, is amper ’n onbegonne taak, want die atmosfeer op die terrein is reeds tasbaar vanaf die parkeerterrein. 

“Ek praat met mense wat altyd geweet het van NAMPO, maar nooit hier uitgekom het nie. Hulle het gehoor dis groot, maar nooit die omvang besef nie. Om op 46 hektaar te kan loop en geniet, om te weet als is rustig. Jy hoef nie te bekommer nie. Ons wil ook die uitstallers bedank vir die moeite wat hulle gedoen het, die ongelooflike standaard wat hulle gestel het en ook vir elke besoeker wat hier was.”

Gedurende die week was daar ook 298 vastevlerkvliegtuie en 61 helikopters by die vliegveld.

NAMPO Park vanuit die lug. Foto: Graan SA

Graan SA se NAMPO Oesdag word in 2025 vanaf 13 Mei aangebied.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.