On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

International

Sal jy ’n perd opsaal om te gaan stem? #SANeedsYou

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 14:20 Tue, 07 May 2024

Sal jy ’n perd opsaal om te gaan stem? #SANeedsYou  | News Article
Suid-Afrikaners stem in Nederland in 2019. Foto: Facebook

“Perth, waar ’n groot klomp Suid-Afrikaners woon, is byvoorbeeld 3 700 km van Canberra af! Ry is net nie ’n opsie nie!”

Sal jy op ’n vliegtuig klim en honderde of duisende kilometer ver reis om te stem? Of sal jy eerder laat lê met koffie in die bed as om oor die straat te stap om jou kruisie te trek? 

Vir talle Suid-Afrikaners in die buiteland is dit absoluut noodsaaklik om die blink ystervoël op te saal om hul stemreg uit te oefen. Hulle besef dat selfs nie ’n enkele stem onderskat mag word nie. Kiesers kán ’n tasbare verskil maak in die vorming van die toekoms van Suid-Afrika en die demokrasie help om volwassenheid te bereik.

’n Trotse Bloemfonteiner Doer Onder, Lieze Conroy (née Swart), was 12 jaar op die Meisieskool Oranje, het argitektuur by Kovsies studeer, lank in die Rosestad gewerk en toe haar vlerke gesprei en ander dele van Suid-Afrika verken. Haar man, James Conroy, is van Pretoria. Hulle het einde 2021 na Melbourne, Australië, verhuis.

Lieze en James Conroy. Foto: Facebook

“Sedert ons kón stem, het ons nog nie ’n verkiesing misgeloop nie en hierdie een is beslis nie anders nie, al bly ons ver. Ja, dit wás moeite en ’n beslommernis (ook ’n frustrasie!) om te moes registreer. 

“Dit was ’n groot gesukkel – ek moes ’n paar keer aanteken, alles invul en oplaai (ID’s, paspoorte ens.) net om wéér van die web afgeskop te word en dan maar weer van voor af te begin, ’n paar keer. Maar aanhouer wen en ons is geregistreer!

“Die perd is egter nog nie klaar opgesaal nie. Ons bly in Melbourne en op dié stadium (hopelik verander dit) kan ons net in Canberra stem, wat amper 700 km ver is! Die spoedgrens in Australië is 100 km/uur, so 700 km klink dalk nie so ver nie, maar dit neem definitief langer om af te lê as in Suid-Afrika. 

‘Ons kan darem die uitstappie met ’n kuier kombineer’

“’n Dagreis ver se ry een kant toe maak dus net nie sin oor ’n naweek nie; met ander woorde, ons sal Canberra toe moet vlieg. Gelukkig het ek ’n neef wat daar woon, so ons kan darem die uitstappie met ’n kuier kombineer om familie te sien, en waarskynlik te braai!

“Ek weet van ’n paar Suid-Afrikaners wat ook gaan stem, maar nie baie nie, en ek neem hulle nie kwalik nie. Dit ís ’n gesukkel en vir groter gesinne raak dit net te moeilik en te duur. Perth, waar ’n groot klomp Suid-Afrikaners woon, is byvoorbeeld 3 700 km van Canberra af. Ry is net nie ’n opsie nie.”

OFM Nuus het onlangs berig daar was ’n geleidelike afname in kiesersopkoms sedert die 1994-verkiesing. In die mees onlangse nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 is hierdie tendens voortgesit en het slegs 66,05% van die geregistreerde kiesers by die stembus opgedaag. Daar is ’n duidelike en kommerwekkende afname in ons kiesers se betrokkenheid.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê meer as 27,79 miljoen kiesers is geregistreer om in vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesing te stem. As die tendens egter voortduur, kan dit moontlik beteken dat slegs 16,4 miljoen kiesers 62 miljoen Suid-Afrikaners by die stembus gaan verteenwoordig.

“Dit was vir ons ’n ernstige en belangrike saak om tóg die moeite te doen om te stem,” sê Conroy. “Dis die een ding wat die meeste mense kán doen, hoe gering ook al, om ’n verantwoordelike, positiewe en deelnemende landsburger te wees. 

“Ons is steeds báie lief vir Suid-Afrika en sy mense. Deur ’n kruisie te trek op 18 Mei (’n week voor die verkiesing in Suid-Afrika), voel ons ten minste, naïef of te not, steeds deel van ’n wonderlike land.

“Nkosi sikelel’ Afrika … waar die kranse antwoord gee, sounds the call to come together … united we shall stand … in South Africa our land.”

In sy presidensiële inhuldigingstoespraak in Pretoria 30 jaar gelede, in Mei 1994, het Madiba gesê: “Ons dra hierdie dag op aan al die helde en heldinne in hierdie land en die res van die wêreld wat baie prysgegee het en selfs hul lewens opgeoffer het, sodat ons vry kan wees.” Hy het verder gesê: “Ons moet dus saam optree as ’n verenigde volk, vir nasionale versoening, vir nasiebou, vir die geboorte van ’n nuwe wêreld.”

Volgens die Verenigde Nasies moet ons die  voordele van ons demokrasie besef en waardeer. “Demokrasie bied ’n omgewing wat menseregte en fundamentele vryhede respekteer, en waarin die vrye, uitgedrukte wil van mense uitgeoefen word. Mense het inspraak in besluite en kan besluitnemers tot verantwoording roep. Vroue en mans het gelyke regte en alle mense is vry van diskriminasie.”

Glory Modiba het in 2019 in Doebai gestem. Foto’s: Facebook

“Waardeer die opofferings wat diegene voor jou gemaak het,” skryf die vryskutskrywer Elias Tibane in ’n artikel van die Regering se Kommunikasiediens (GCIS): Jou mag lê in jou stemreg

“Ten spyte van uitdagings het Suid-Afrika ook merkwaardige prestasies behaal om die lewens van baie mense te verbeter, en ons moet op die positiewe ontwikkeling fokus.

“Indien ons nié stem nie, verloor ons die reg om te kla oor swak dienslewering en politieke partyprestasie. Deur jou stem uit te bring, beïnvloed jy wie jou verteenwoordig. Dit is ook ’n manier om ons leiers aanspreeklik te hou en te verseker dat hulle in die beste belang van die mense werk,” voeg Tibane by. 

Onthou, #SANeedsYou!

OFM Nuus/Corné Greyvenstein mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.