On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Wiele begin draai vir Lief Platteland-projek

───   ELZETTE BOUCHER 04:00 Fri, 09 Feb 2024

Wiele begin draai vir Lief Platteland-projek | News Article
Die bekendstelling van die Lief Platteland-projek. Foto: OVK

“Ek is verskriklik opgewonde; ek het al ’n hele klomp vergaderings gehad.”

’n Inisiatief, wat ten doel het om by te dra om die landelike gebiede van Suid-Afrika tot hul eertydse glorie te herstel, het reeds begin aftrek kry.

Christel Basson, bemarking- en kommunikasiebestuurder van OVK, vertel die Lief Platteland-projek, wat onlangs in Bloemfontein bekend gestel is, het tot dusver goeie terugvoer ontvang.

“Ek is besig om deur belangstellendes te werk en kontak te maak. Ek besef as ons dit wil doen, moet ons dit ordentlik doen. Daar's baie gesprekke wat plaasvind. Ek is regtig baie opgewonde oor dit.”

Basson vertel die idee om die platform te skep waar nood en uitkoms mekaar kan ontmoet het gekom nadat sy met haar werksreise na sekere dorpe se verval opgelet het.

“Die dorpies wat ’n tennisbaan, rolbalbaan, gholfbaan het wat nog standhoudend is, is waar jy sien waar gemeenskappe saamwerk. Dié dorpe is netjieser. Dan snaaks genoeg waar dit verval, sien jy dat die dorp ook uitmekaar val. Dit het my baie gepla en ons het begin wonder hoe ons die platteland kan help.”

‘Verstedeliking is ’n groot faktor wat lei tot verarming’

Uiteraard is die landbousektor in die platteland wat die kern van voedselsekerheid is, maar nou is daar dorpe wat nie meer dienste aan die inwoners lewer soos vroeër nie. Verstedeliking is ’n groot faktor wat lei tot verarming. Ouers stuur hul kinders weg na groter skole, sommige dorpe het nie eens meer dokters nie en baie banke het ook hul takke gesluit.

Basson sê verskaffers het ook dikwels gevra waar hulle kan betrokke raak of wanneer daar geleenthede was, eers te laat daarvan te hore gekom.

Die eerste geleentheid om die haalbaarheid van so ’n platform te toets het hom voorgedoen toe die Ladybrand-gholfbaan se dam, waaruit die bane natgelei word, verlede jaar gebreek het. Die bestuur het OVK gekontak om te hoor of hulle nie wil voelers uitsteek om te hoor wie sou kon help om dit te herstel nie.

Basson het haar kontaklys nader getrek en names die gholfbaan uitgereik. Só het Engen na vore getree en die dam herstel.

Hoewel die oplossing deur OVK gefasiliteer is, was dit nie noodwendig ’n OVK-projek nie, maar ’n neutrale platform waar mense bymekaarkom.

Sy rig ’n uitnodiging aan alle belanghebbendes om betrokke te raak.

‘Ons skep net ’n platform’

“Ons werk op die grond, ons weet waar daar nood is. As jy wil in ’n spesifieke dorp op ’n spesifieke manier betrokke raak, dan kan ons jou help. Ons skep net ’n platform.”

Om bewustheid te skep word diegene wat projekte ondersteun geplaas op borde in OVK se takke, artikels in hul kwartaallikse uitgawe geplaas en opdaterings geplaas op sosiale media.

Vir meer in verband met Lief Platteland stuur ’n e-pos na christelb@ovk.co.za.

OFM Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.