On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente verantwoordelik om grond te bewaar

───   15:19 Mon, 04 Dec 2023

Produsente verantwoordelik om grond te bewaar | News Article

“Slegs 7,5% van die aarde se oppervlak bestaan uit landbougrond waarop kos verbou kan word.”

Produsente oor die wêreld heen moet hul rol en verantwoordelikheid as die primêre versorgers van landbougrond aangryp ter wille van voedselsekerheid en die bestuur van klimaatsverandering.

Dis volgens nematoloog prof. Driekie Fourie, wat aan die Noordwes-Universiteit verbonde en deel van die Syngenta Seedcare span is. OFM-inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger, het met haar gepraat op die vooraand van Wêreldgronddag op 5 Desember met die tema Grond: waar kos begin.

“Die tema van Wêreldgronddag omvat die geweldige belangrikheid van hierdie natuurlike hulpbron. Die statistieke is ewe ontsagwekkend as vreesaanjaend en illustreer in geen onsekere terme die verband tussen grondgesondheid, voedselsekerheid en klimaatsverandering.”

  • Slegs 7,5% van die aarde se oppervlak bestaan uit landbougrond waarop kos verbou kan word.
  • 95% van ons kos kom uit die grond.
  • Landbouproduksie sal met 60% moet toeneem om aan die wêreldwye voedselaanvraag in 2050 te voldoen.
  • Grond verskaf 15 van die 18 chemiese elemente wat natuurlik voorkom en noodsaaklik vir plante is.
  • 25% van die aarde se biodiversiteit is in grond.
  • Grond is die aarde se tweede grootste koolstofstoor.
  • 33% van die aarde se grond, en meer as die helfte van die landbougrond, is in ‘n slegte toestand.
  • Dit neem langer as 1 000 jaar om 1 cm grond te kweek.

In terme van voedselproduksie, produseer gesonde grond meer voedsame kos en plante wat meer bestand is teen peste en siektes. Gesonde grond berg ook meer water en stel dit beskikbaar aan plante wanneer reënval wisselvallig is.

“Grondgesondheid is uiters belangrik,” sê Stefan van Zyl van Syngenta Seedcare Suid-Afrika. “Die werklikheid dat die 10 – 30 cm bogrond wat ons in staat stel om kos te produseer binne die volgende 60 jaar opgebruik kan wees, is ‘n wekroep wat geen mens of maatskappy kan bekostig om te ignoreer nie.”


Rol van wortelgesondheid

Fourie verduidelik wortels neem nie net uit die grond nie; die verhouding tussen die twee is hoogs simbioties. “Plantwortels help om gronddeeltjies te bind. Dit skep ‘n stabiele grondstruktuur, voorkom gronderosie en verlies aan bogrond, verbeter waterinfiltrasie en verminder kompaktering.”

Wortelstelsels onttrek wel voedingstowwe uit die grond, maar hulle stel ook organiese verbindings vry wat voordelige mikroörganismes wat die sirkulering en beskikbaarheid van voedingstowwe verbeter, aanlok. Laastens dien gesonde wortelstelsels as habitat en voedselbron vir grondorganismes wat wissel van erdwurms tot mikorisale swamme – almal noodsaaklik vir beter ekosisteemveerkrag.

Voordele van saadbehandelings

Van Zyl noem dat saadbehandeling die voorste linie van verdediging teen plantparasitiese aalwurms, swamsiektes en insekaanvalle is, maar dit moet ondersteun word deur bestuurspraktyke soos toedienings in vore en onkruidbeheer.

In kombinasie, lewer gesonde grond en gesonde wortelstelsels beter resultate en word die doelwit om meer kos met minder insette te produseer, meer bereikbaar. Daar word gereken dat produsente 30% tot 40% van hul opbrengste aan peste en siektes afstaan. Beter grondbestuur kan dit verander.

Soveel as wat kos by grond begin, begin dit ook by wortels.

Artikel verskaf.

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.