Agriculture
Vaalrivier: Hulp van hengelaars steeds baie nodig met siek visse─── KAREN VAN DER BERG 10:30 Wed, 08 Nov 2023
“Dit lyk ook of dit nie slegs tot die Vaalrivier beperk is nie, maar ook ander riviere en waterstelsels.”
Hoewel hy baie dankbaar is vir al die inligting wat hy reeds ontvang het, doen hy ’n beroep op hengelaars om nog baie meer foto’s en inligting van enige siek visse in die Vaalrivier vir hom te stuur.
So sê André Pietersen (55), ’n inwoner van Vanderbijlpark wat al 32 jaar hier hengel. OFM Nuus het verlede maand berig daar is groot rede tot kommer oor die visse se toestand. Sommige visse het sere wat lyk asof hulle melaats het en ander het deur hul skubbe begin bloei.
Pietersen het saam met ’n hele span kundiges begin om opnames te maak en inligting in te samel oor waarom soveel visse in die rivier vrek en baie siek is. Dr. Mariska Laubscher, ’n wetenskaplike van Greenhills Laboratoriums in Kaapstad, en dr. Guguletho Moyo,’n staatsveearts van Johannesburg, werk nou saam om die kwessie te ondersoek en na te vors wat die probleem en moontlike oplossings mag wees.
Siek visse van die Vaalrivier. Foto verskaf
“Ons is baie dankbaar vir almal wat reeds begin het om vir ons data aan te stuur. Ons grootste behoefte is nou om vars lewendige spesies in te kry wat siek is. Dit is veral die hengelklubs wat hiermee kan help.”
Hy sê op die oomblik lyk dit ook asof baie van die probleme in die gebied tussen Vereeniging en Deneysville is. “Ons vra daarom vir hengelaars in daardie gebied om vir ons inligting te stuur.”
Sommiges het sere wat lyk asof hulle melaats het. Foto verskaf
“Almal dink altyd die rioolvuil wat in die Vaalrivier inloop, is die oorsaak van die siektes van die visse. En, hoewel dit beslis die gehalte van die water beïnvloed, is daar iets anders ook wat verantwoordelik is vir die visse se toestand.”
Hy sê een van die moontlike oorsake wat ondersoek word, is dat daar ’n virus is wat van die buiteland af kom en die water besmet het. Dit word wel nog ondersoek. Dit lyk ook of dit nie slegs tot die Vaalrivier beperk is nie, maar ook ander riviere en waterstelsels.
• Enigeen wat graag wil help met foto’s en die presiese ligging van die visse, kan André by 079 971 0728 bel.
OFM Nuus/Karen van der Berg Corné/Daphné/Morné