On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Jeugskoue belangrik vir toekoms van landbou

───   ELSABÉ RICHARD 15:00 Tue, 24 Oct 2023

Jeugskoue belangrik vir toekoms van landbou  | News Article
Vleisbees Jeugskou by vanjaar se NAMPO ALFA, NAMPO Park.

"Ons probeer die kinders eerstens leer dat hulle moet konsentreer, hulle moet netjies wees, hulle moet hou van wat hulle doen en hulle moet respek hê vir die dier wat hulle hanteer en hulle mede-deelnemers.”

In 'n tyd waar digitale tegnologie en stedelike lewenswyse dikwels jong mense van die natuur en selfs die landboubedryf vervreem, is jeugskoue 'n waardevolle kans om 'n verbinding met die platteland en diere te herstel. 

Jeugskoue, soos NAMPO ALFA se Vleisbees Jeugskou, bied 'n belangrike geleentheid vir kinders om 'n positiewe verandering in hul gedrag te ervaar en 'n goeie alternatief te vind vir dié wat nie noodwendig in sport belangstel nie. 

Corné Nel van BKB en die beoordelaar van vanjaar se jeugskou by NAMPO ALFA het die belangrikheid van hierdie geleentheid beklemtoon. 

Hy sê jeugskoue speel 'n rol in die bevordering van die toekoms van die land se landboubedryf deur individue se liefde vir hierdie sektor te kweek.

Jeugskoue is nie net 'n kompetisie om diere te vertoon nie, dit gaan oor die ontwikkeling van waardevolle lewensvaardighede en 'n passie vir die landboubedryf.

Een van die leerders wat haar bul tydens die Vleisbees Jeugskou vertoon het.

“Ons boots natuurlik die normale skou na. Ons wil hê hulle moet daai dier vir ons so goed as moontlik laat vertoon, laat skou. Ons wil die dier sien, as die dier goed is, moet hy homself goed uit bring.

“Hierdie is 'n jeugskou, ons probeer die kinders eerstens leer dat hulle moet konsentreer, hulle moet netjies wees, hulle moet hou van wat hulle doen en hulle moet respek hê vir die dier wat hulle hanteer en hul mede-deelnemers.”  

In 'n land waar landbou 'n belangrike rol speel in die ekonomie en voedselvoorsiening, is dit van uiterste belang om die jeug te betrek en hulle te leer om waardevolle vaardighede te ontwikkel. 

"As ons nie die jeug kan kry om met diere te werk en lief te wees vir diere nie, het ons nie 'n toekoms nie. Ek wil vir al die kinders daar buite sê maak kontak en gaan lees 'n bietjie op," sê Nel.

OFM Nuus/Elsabé Richard-May


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.