On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Noord-Kaap wag op premier rakende droogte

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 18:05 Thu, 24 Oct 2019

Landbounuus-podcast: Noord-Kaap wag op premier rakende droogte | News Article

Die droogtegeteisterde Noord-Kaap wag nog vir Premier, Zamani Saul, om dié provinsie in geheel amptelik as 'n droogterampgebied te verklaar.


Daar is egter sekere prosesse wat eers gevolg moet word in dié verband. Só sê die LUR van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in die Noord-Kaap, Nomandla Bloem,  nadat die departement sy plan vir die implementering van droogtehulp vandeesweek in werking gestel het. Dié plan, wat vroeër vandeesmaand goedgekeur is, fokus op die besteding van R30 miljoen, wat onlangs deur adjunk president David Mabuza vir onmiddellike droogtehulp in dié provinsie beskikbaar gestel is. Bloem sê intussen is die eerste veevoerbale ter waarde van R56 000 deur die departement aangekoop om in die Ritchie-gebied, wat onder die Frances Baard-distriksmunisipaliteit val, aan boere te verskaf. Elke boer veevoerbale van 3 ton elk ontvang. Bloem sê daar is R11 miljoen beskikbaar gestel vir veevoer-aankope in die Namakwa-distrik. Koeponne vir veevoerbale sal van volgende week af aan boere in dié distrik verskaf word. Veevoer sal daarna in die ZF Mgcawu- en die Pixley Ka Seme-distrikte versprei word.

Die grootskaalse produksie van turksvye kan moontlik 'n oplossing bied vir boere in droogtetoestande waar weiding skaars en veevoer duur is. Dr. Herman Fouché, 'n navorser by die Landbounavorsingsraad (LNR), meen die turksvyplant is deel van die vetplant-familie wat fisiologies in droogtetoestande kan aanpas. Hy sê daar is 'n versameling van 42 kultivars, waarvan sekere kultivars beter vir die produksie van veevoer aangewend kan word. Sommige kultivars lewer weer gehalte vrugte. Hy sê dit is juis daarom belangrik om die regte kultivar te kies vir spesifieke doeleindes. Volgens hom is die hele plant ook doeltreffend in sy waterverbruik en sodoende met min water groot hoeveelhede ruvoer produseer. Hy sê as dié vetplante goed opgepas word en die regte behandeling kry, kan vier ton se droë materiaal per hektaar geproduseer word. Dit is 400 ton nat materiaal, wat net so deur die diere gebruik kan word.

EN

Verskeie abattoirs in Noordwes gaan erkenning ontvang by die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in dié provinsie vir hul bydrae tot die veilige produksie en lewering van vleis. LUR Desbo Mohono sal na verwagting Vrydag die eerbewysgeleentheid vir die provinsiale abattoir-higiëne-graderingskema by die Potchefstroomse Landboukollege lei. Die departement se woordvoerder, Emelda Setlhako, sê dié geleentheid vind jaarliks plaas ter bevordering van die nakoming van die Wet op Vleisveiligheid van 2000. Sy sê 46 van altesaam 53 abattoirs is in die 2018/19-boekjaar deur die departement se veterinêre openbare gesondheidsamptenare in die veeartsenykundige dienste geoudit. 



OFM-nuus

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.