National
Marli van Breda: ‘Moet nie te veel lees in foto’s nie’─── 06:57 Tue, 12 May 2015
Kaapstad - Marli van Breda (16), die meisie wat 'n bylaanval op haar gesin oorleef het, se regsverteenwoordiger het Maandag gesê mense moet nie te veel probeer lees in haar bedrywighede op sosiale media nie.
“Die foto’s wat geplaas is, is 'n huldeblyk aan haar oorlede familielede. Die media moet waaksaam wees voor hulle tot gevolgtrekkings of ongegronde bespiegelings kom,” het adv. Louise Buikman in 'n e-pos aan News24 gesê.
Buikman het gereageer op mediaberigte die naweek rakende plasings wat op Marli se Instagram-profiel gemaak is. Marli het foto’s van haar vermoorde ouers, Martin en Teresa, en haar vermoorde broer, Rudi, op haar profiel gelaai. Die drie is in Januarie in hul huis op die De Zalze-gholflandgoed met 'n byl vermoor. Marli het 'n baie ernstige kopbesering opgedoen. Haar ander broer, Henri, het glo net geringe beserings opgedoen.
Marli het foto’s geplaas van haar saam met haar ouers en ’n foto van haar pa en Rudi. Sy het onderaan die foto’s geskryf: “Die mense wat ek die meeste liefhet.” Sy het ook 'n foto van haar ma opgelaai.
Buikman het gesê daar is nog geen verandering in Marli se geheueverlies nie. “Dit is onwaarskynlik dat sy die voorval sal onthou. Buikman het wel gesê Marli se toestand “gaan voort om te verbeter en sy is in goeie gesondheid”. “Haar herstel gaan 'n lang tyd vat, maar gegewe die omstandighede is dit niks minder as 'n wonderwerk nie.”
Marli en Henri het mekaar nog nie gesien sedert die aanval nie. Sy is tans in die sorg van familievriende.
The Citizen het vroeër die maand berig dat Henri by ’n familievriend in Welkom woon.