National
Kougom op Gautrein: Wagte was 'professioneel'─── 16:24 Fri, 20 Jul 2012

Johannesburg - Die sekuriteitswagte wat twee vroue aangehou het omdat hulle kougom op die Gautrein gekou het, het professioneel opgetree, het die Bombela-konsortium Vrydag gesê.
“Die maatskappy is van mening dat sy sekuriteitswagte regdeur (die proses) professioneel en respekvol opgetree het, ten spyte daarvan dat hulle blootgestel is aan verbale mishandeling,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Bombela het die saak ondersoek ná bewerings dat twee vroue vir vier ure aangehou is en met R700 beboet is omdat hulle verlede Vrydag kougom gekou het by die Rosebank Gautrein-stasie.
Pontso Pakkies en Lebo Sibisi was nie bewus daarvan dat kougom nie toegelaat word op die trein nie. Terwyl hulle vir die trein gewag het, het 'n sekuriteitswag hulle genader en gesê hulle moet van die kougom ontslae raak, het Pakkies aan The Star gesê.
Nadat hulle met die sekuriteitswag gepraat het, het hulle die kougom in papier gedraai en in hul handsakke gesit omdat daar nie 'n asblik naby was nie.
Toe die trein by die stasie intrek, het een van die sekuriteitsbestuurders aan hulle gesê hulle mag nie in die trein klim nie.
"Hy het gesê ons het geweier om die kougom weg te gooi en dat hy ons gaan beboet," het Pakkies gesê.
Die susters is aangehou in 'n kamer waar daar geen selfoonontvangs is nie. Die sekuriteitswagte het ook geweier dat hulle hul familie kontak en toilet toe gaan.
Hulle is vrygelaat nadat hulle 'n boete van R700 betaal het.
Bombela sê hy het na CCTC-beeldmateriaal gekyk en het verklarings geneem van diegene wat betrokke was.
Volgens Bombela weergawe het een van die sekuriteitswagte gesien hoe ‘n vrou kougom kou op die platform en het haar gevra om dit in ‘n nabygeleë asblik te gooi.
“Die vrou het geweier om haar samewerking te gee en het met die wag begin argumenteer. Hy het ‘n tweede wag nader geroep om die reël te bevestig en die versoek is herhaal.”
Beide vroue het kwaad geword en het geweier hul samewerking te gee. ‘n Assistent-stasiebestuurder is uitgeroep om die reëls te verduidelik, maar die vroue het geweier en het met hulle geargumenteer.
Die vroue is gevra om die bestuurder na die sekuriteitskantoor te volg waar die reëls weer verduidelik is. Die maatskappy het ontken dat sy werkers die vroue gedreig of gewelddadig geraak het.
Die vroue het luidrugtig gebly in die kantoor en wou nie saamwerk nie, het Bombela gesê. Hulle het ook geweier om identifikasie te toon.
Die polisie is gekontak nadat die vroue aangehou argumenteer het. Ná ‘n lang argument het die twee uiteindelik hulself geïdentifiseer en ‘n “gepaste boete” is aan hulle gegee.
Bombela ontken dat die twee vir vier ure aangehou is en sê die hele voorval het twee ure geduur.
Sapa