Central SA
Gemeenskap herstel Koffiefontein se kenmerkende ketel─── HEIDRÈ MALGAS 15:40 Mon, 22 Jul 2024
“Ons ketel is egter beskadig, en Koffiefontein Saamstaan het besluit om dit te herstel, omdat die ketel ons dorp se identiteit verteenwoordig.”
Die ketel op Koffiefontein is herstel, en die gemeenskap was betrokke by die aksieplan om hierdie monument weer heel te maak.
“Die ketel, saam met ander projekte, bring weer trots en liefde vir ons dorp,” sê Mariska Potgieter, DA-raadslid van Koffiefontein. “Dit inspireer ander om ook na ons dorp om te sien en dit op te bou.”
“Koffiefontein is bekend vir sy ketel,” sê Engela du Toit, lid en medestigter van die groep Koffiefontein Saamstaan. “Ons ketel is egter beskadig, en Koffiefontein Saamstaan het besluit om dit te herstel, omdat die ketel ons dorp se identiteit verteenwoordig.”
Stephan Marais, lede van sy span, lede van Koffiefontein Saamstaan en Mariska Potgieter. Foto: Facebook.
“Ons het geweet daar is nie geld vir sulke projekte nie, maar ’n klein groepie mense het besluit om hulle nie van stryk te laat bring nie. Hulle het hul hart en beursie oopgemaak, en so het ons met die restourasie begin,” sê Potgieter.
Potgieter vertel dat Stephen Marais jare gelede betrokke was by die restourasie van die ketel. Hy doen gereeld duikklopwerk. Hy en sy span het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en het lank gewerk aan die projek. Marais het sy arbeid gratis aangebied.
“Hierdie soort projekte sal ’n opbouende bydrae lewer tot toerisme op Koffiefontein, wat weer ’n hupstoot aan ons ekonomie sal gee,” meen Potgieter.
Koffiefontein is bekend vir sy ketel. Foto: Facebook.
Om te verseker dat die ketel nie weer beskadig word nie, sal die gemeenskap deur middel van goeie kommunikasie kwaadstokers onmiddellik aanmeld. ’n Heining word ook opgerig om die ketel te beskerm.
Sy sê die gemeenskap doen moeite om goeie materiaal te bekom, en daar waar geld tekort skiet, gee hulle meer gereeld aandag. Om hierdie tipe projekte volhoubaar te maak, werk die betrokke gemeenskapslede baie hard om te verseker dat die werk nie ophou nie.
Solank die gemeenskap aanhou saamstaan om hierdie soort veranderinge te bring, sal dit volhoubaar wees. Dit is belangrik om mekaar te inspireer en positief te hou om voort te gaan.
Almal wat graag wil deelneem aan hierdie aksieplanne om Koffiefontein weer in die kollig te plaas, is welkom om by die Koffiefontein Saamstaan aan te sluit of hulle te kontak.
Die ketel, saam met ander projekte, bring weer trots en liefde vir die dorp. Foto: Facebook.
Die volgende projek wat hulle gaan aanpak, is die monument wat in 1922 op die koppie opgerig is met die hulp van skoolleerlinge wat pennies ingesamel het ter nagedagtenis aan die Eerste Wêreldoorlog-soldate. Dit is reeds met behulp van gemeenskapslede gerestoureer.
Daar is tans ook ’n gesamentlike gemeenskapsprojek aan die gang om die begraafplaas, wat deel vorm van Koffiefontein se erfenis, weer mooi en aanloklik te maak vir besoekers.