Local News
Vrou op Vrystaatse plaas met mes gesteek─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:46 Mon, 29 Jan 2018
'n Vrou is gistermiddag helder oordag met 'n mes gesteek en haar man is met 'n knopkierie aangeval in hul plaashuis in die Hennenman-distrik in die Vrystaat.
Polisiewoordvoerder, Malebo Khosana, sê die 66-jarige James Allen en sy 57-jarige vrou Isabella was in hul sitkamer op die plaas Rietgat toe hulle na hul kombuis gegaan het om middagete voor te berei. Daar was reeds twee mans in die kombuis.
Een van die mans wat ‘n mes by hom gehad het, het Isabella in die arm gesteek, terwyl die ander man James met ‘n knopkierie geslaan het. James kon egter die knopkierie by die man afvat en het hom daarmee teruggeslaan. Die mans het daarna weggehardloop. Niks is uit die huis gevat nie.
Khosana sê die voorval het tussen 13:00 en 13:30 plaasgevind en die booswigte het toegang tot die huis verkry deur die kombuisdeur, waarvan die boonste gedeelte oop en die onderste gedeelte gesluit was. Daarmeesaam is een van die aanvallers ‘n voormalige werknemer op die plaas gewees. Die egpaar se honde het hom geken en hy het vermoedelik die honde nader geroep.
Isabella het twee steekwonde opgedoen en mediese behandeling ontvang, terwyl haar man nie ernstig beseer is nie.
Die polisie ondersoek ‘n klag van poging tot huisroof.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie.
OFM-nuus