On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

International

‘Ons is hier om te bly,’ sê EU terwyl Amerika Suid-Afrika dreig

───   14:08 Fri, 14 Mar 2025

‘Ons is hier om te bly,’ sê EU terwyl Amerika Suid-Afrika dreig | News Article
Antonio Costa, president van die Europese Raad, pres. Cyril Ramaphosa en Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie. Foto: X

Die Europese Unie (EU) en Suid-Afrika gaan hul samewerking verdiep midde-in handelsbedreigings van die Amerikaanse administrasie wat albei trotseer.

Die agtste beraad tussen die leiers van die EU en Suid-Afrika het Donderdag (13/3) in Kaapstad, Suid-Afrika, plaasgevind.

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het volgens Reuters planne aangekondig om ’n beleggingspakket van €4,7 miljard (R95 miljard) aan Suid-Afrika beskikbaar te stel wat toegespits is op skoon energie en die bevordering van entstofproduksie.

Suid-Afrika kan ’n belangrike rol op die wêreldtoneel speel as ’n vooraanstaande stem uit die Suide, het Von der Leyen gesê. “Op ’n tydstip van toenemende konfrontasie en mededinging, moet ons ons vennootskap verder versterk.”

Sy het tydens samesprekings met pres. Cyril Ramaphosa in Kaapstad gesê Europa wil die Suid-Afrikaanse ekonomie help groei. “Europa verstaan Suid-Afrika se potensiaal,” het sy gesê terwyl sy langs Antonio Costa, president van die Europese Raad, gesit het.

Sy het skoon waterstof aangehaal, waar Suid-Afrika van oorvloedige grondstowwe en groot hernubare energiepotensiaal kan gebruik maak.

Ramaphosa het in sy openingstoespraak die wêreldwye onsekerheid uitgelig wat gekenmerk word deur “toenemende eensydigheid, ekonomiese nasionalisme” en ontwrigting sedert Donald Trump president van Amerika geword het. Hy het die belangrikheid van samewerking tussen nasies wat demokratiese waardes deel, beklemtoon, veral aangesien multilateralisme toenemend bedreig word.

“Dit is tyd om saam te werk ter verdediging van dit waarin ons glo – demokrasie, die oppergesag van die gereg, insluitend die respek vir internasionale reg en internasionale humanitêre reg,” het hy gesê en bygevoeg dat wêreldwye onrus net Suid-Afrika se verhouding met die EU sal versterk.

“Ons verdubbel ons ondersteuning en is hier om te bly,” het Von der Leyen gesê, met die klem op die EU se verbintenis en ’n “nuwe hoofstuk” in betrekkinge belowe. Sy het die EU se steun van Suid-Afrika se G20-presidentskap en sy leierskap in globale handel en klimaatpogings bevestig.

Die beraad het ook aandag gegee aan pogings om die oorlog in Oekraïne te beëindig en die ekonomiese bande tussen die EU en Suid-Afrika te verstewig.

OFM Nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.