On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

International

Israel stuur twee vliegtuie Amsterdam toe ná sokkergeweld

───   10:07 Fri, 08 Nov 2024

Israel stuur twee vliegtuie Amsterdam toe ná sokkergeweld | News Article
Maccabi Tel Aviv-ondersteuners het by die Damplein in Amsterdam bymekaargekom voor die UEFA Europa League-wedstryd. Foto: Jeroen Jumelet/EPA

Israeliese sokkeraanhangers word op ’n spesiale vlug ontruim uit Nederland nadat hulle oornag, tot vroeg Vrydagoggend (8/11), in ’n “ernstige voorval van geweld in Amsterdam” betrokke was.

Honderde aanhangers van Israel se Maccabi Tel Aviv-sokkerspan is na bewering Donderdagaand “in Amsterdam oorval en aangeval” deur Pro-Palestynse betogers. Hulle was op pad uit die stadion ná ’n Europa League-sokkerwedstryd teen die Nederlandse span Ajax, sê die Israeliese ambassade in die VSA op X.

In sosialemediavideo’s wat deur die ambassade op X gedeel is, kan die geweld teen Maccabi-aanhangers gesien word, maar CNN kon nog nie die konteks daarvan verifieer nie.

Besonderhede oor die voorval is vaag. Luidens berigte het Israeliese sokkerondersteuners voor die wedstryd Palestynse vlae in die stad geskend en mense aangerand. Hulle het na bewering ook nie die minuut van stilte in die stadion ter ere van vloedslagoffers in Valencia, Spanje, gerespekteer nie, blykbaar weens Spanje se besluit om ’n wapentransaksie van miljarde met ’n Israeliese maatskappy te kanselleer.

Dié video’s is nié geskik vir sensitiewe kykers nie:

Die plaaslike polisie sê 57 mense is ná die wedstryd aangehou omdat pro-Palestina betogers probeer het om na die Johan Cruyff-stadion op te ruk, al het die stad hulle verbied om daar te betoog, berig Reuters. Aanhangers het die stadion sonder voorval verlaat, maar gedurende die nag is verskeie botsings in die middestad aangemeld.

Die Israeliese minister van buitelandse sake, Gideon Sa’ar, sê tien burgers is beseer, en hy het Israeli’s in Amsterdam aangeraai om in hul hotelle te bly. “Die indruk uit verslae is dat die situasie die laaste uur gekalmeer het,” sê Sa’ar.

Sa’ar het sy Nederlandse eweknie, Caspar Veldkamp, gevra om te help om Israeli’s van hul hotelle na die lughawe te neem, volgens Israel se ministerie van buitelandse sake.

In ’n verklaring van sy kantoor beskryf die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, die geweld as “ernstig” en sê hy hy stuur “onmiddellik twee reddingsvliegtuie” om Israeliese burgers by te staan.

Die Israeliese leier doen ’n beroep op Nederland om “ferm en vinnig teen die oproeriges op te tree en die vrede van ons burgers te verseker”.

“Die Israeliese weermag berei voor om onmiddellik ’n reddingsending te ontplooi met die koördinering van die Nederlandse regering,” sê die weermag. “Die sending sal met vragvliegtuie ontplooi word en mediese en reddingspanne insluit.”

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.