On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

International

Wêreld se tweede grootste diamant in Botswana gevind

───   05:17 Fri, 23 Aug 2024

Wêreld se tweede grootste diamant in Botswana gevind | News Article
Nog ’n knewel van ’n diamant is in Afrika gevind. Foto: Lucara

“Botswana se diamantbedryf bied wydlopende sosiaal-ekonomiese voordele aan die land wat veel verder strek as die mynbousektor.”

Die merkwaardige vonds in Botswana van ’n uitsonderlike 2 492 karaat diamant, een van die grootste ongeslypte diamante wat tot nog toe opgegrawe is, is opgespoor en uitgehaal deur gevorderde tegnologie in te span.

Lucara Diamond, ’n Kanadese maatskappy, het die van dié vonds by sy Karowe-diamantmyn in Botswana aangekondig. Die Mega Diamond Recovery X-ray Transmission-tegnologie is in 2017 geïnstalleer om groot, waardevolle diamante te ontgin.

“Hierdie ontdekking onderstreep Karowe se reputasie as ’n wêreldklasbate en bevestig weer Lucara se posisie as ’n toonaangewende produsent van groot, uitsonderlike diamante. Hierdie jongste ontdekking is deel van ’n indrukwekkende lys van ander belangrike vondste in die myn, insluitend die 1 758 karaat-Sewelô en die 1 109 karaat- Lesedi La Rona.

“Ons is in ekstase oor die ontginning van hierdie buitengewone 2 492 karaat-diamant. Hierdie vonds wys nie net die merkwaardige potensiaal van ons Karowe-myn nie, maar regverdig ook ons strategiese belegging in toonaangewende tegnologie. 

“Die vermoë om so ’n massiewe klip van hoë gehalte ongeskonde te ontgin demonstreer die doeltreffendheid van ons benadering tot diamantontginning en ons toewyding om waarde vir ons aandeelhouers en belanghebbendes te bied,” het William Lamb, vootsitter en uitvoerende hoof van Lucara, gesê ná hierdie geskiedkundige ontdekking. 

Botswana se diamantbedryf bied wydlopende sosiaal-ekonomiese voordele aan die land wat veel verder strek as die mynbousektor. Die invloed daarvan ondersteun nasionale ontwikkeling deur kritieke areas soos onderwys en gesondheidsorg te befonds.

Hierdie ontdekking simboliseer ook Botswana se voortgesette opgang as ’n wêreldleier in diamantproduksie. Dit verteenwoordig nie net die ongeëwenaarde rykdom wat in Botswana se grond gevind word nie, maar ook die merkwaardige vordering wat die nasie gemaak het in die ontwikkeling van sy diamantbedryf tot voordeel van sy burgers.


Mmegi.bw berig die Verenigde State is die belangrikste mark vir Botswana se natuurlike diamante, wat sowat 54% van die jaarlikse vraag uitmaak, gevolg deur China en Indië. 

Volgens ’n verslag wat in Julie deur die toonaangewende diamantkleinhandelnavorsingsfirma Tenoris uitgereik is, het die algehele inkomste uit los en voltooide natuurlike diamantjuwelierswareverkope met 8,5% gestyg namate verbruikers die gemiddelde besteding per eenheid met vyf persent verhoog het. 

“Verkope van los, natuurlike diamante het jaar tot jaar met 4,2% per volume gestyg en ’n baie mooi 10% per waarde. Dit bied ’n mate van verligting aangesien die diamantbedryf sukkel met ’n skerp daling in vraag uit China.

‘Botswana is die naasgrootste produsent van diamante naas Rusland’

’n Jaar gelede het die regering van Botswana en die De Beers-groep ’n hoofooreenkoms bereik oor ’n 10-jaar-verkoopsooreenkoms vir Debswana se ongeslyptediamantproduksie tot 2033.

Die twee partye het ook ingestem tot ’n verlenging van 25 jaar van die Debswana-mynlisensieooreenkoms wat tot 2054 sal strek. 

Debswana is ’n mynmaatskappy met vier diamantmyne in Botswana. Elke party besit 50% van die maatskappy. Dit is die wêreld se voorste vervaardiger van diamante volgens waarde. Botswana is die tweede grootste produsent van diamante naas Rusland.

Terwyl die onderhandelinge tussen Botswana en die De Beers-groep baie belangstelling uitgelok het, aangesien die regering ’n groter deel van die diamantpastei geëis het, het die lot van Jwaneng en Orapa Mines se Cut 9- en 3-projek ietwat op die agtergrond vervaag. Min aandag is aan die twee groot inisiatiewe gegee, al is dit deurslaggewend vir die toekoms van Botswana se mynbousektor.


Aangesien De Beers ingestem het om meer diamante aan Botswana se regering te oorhandig deur middel van ’n verkoopsooreenkoms wat uiteindelik 50/50 sal bereik, het dit op sy beurt die toekoms van albei projekte verseker, wat die lewensduur van die Jwaneng- en Orapa-myn sou verleng.

Die reëling tussen die edelsteenreus en die wêreld se tweede grootste produsent is vir albei partye van kritieke belang en speel ’n sentrale rol in die wêreldwye diamantverskaffingsketting.

"Ons beskou nie die regering as ’n mededinger nie, maar ’n vennoot in hierdie besigheid. Hierdie transaksie is ’n wen-wen-situasie vir ons albei, want op die ou end wil ons sien dat Botswana sy posisie as ’n diamantsentrum verstewig,” het Paul Rowley, De Beers se adjunkvoorsitter, bygevoeg.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.