On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Parys verbeter Olimpiese norme

───   05:56 Mon, 12 Aug 2024

Parys verbeter Olimpiese norme | News Article
Die Paralimpiese Spele begin op 28 Augustus in die Franse hoofstad. Foto: X/Lei Jun

“Die Parys-Spele was nie perfek nie, maar die Franse hoofstad het nuwe voorbeelde verskaf van hoe die Olimpiese Spele verbeter kan word.”

Die vreugde van atlete en aanhangers op die Olimpiese Spele se afsluitingseremonie was duidelik toe die rolprentster Tom Cruise in Hollywood-styl van die Stade de France se dak in Parys neergedaal het (abseil) in ’n voorskou van wat die wêreld kan verwag wanneer die volgende Spele in Los Angeles in 2028 gehou word. 

Hy het voor 71 500 mense die Olimpiese vlag by die gimnastiekster Simone Biles oorgeneem, op ’n motorfiets gespring, met die vlag deur die strate van Parys gejaag, op ’n vliegtuig geklim en sy jongste missie suksesvol voltooi toe hy na die Kaliforniese stad valskermspring om die Olimpiese ringe op Hollywood se naambord aan te bring. 

Tom Cruise het die Olimpiese ringe op Hollywood se naambord aangebring. Foto: Skermgreep

In die Hollywood-heuwels het hy die Olimpiese vlag aan ’n fietsryer oorhandig – “mission success”.

Parys het Sondag (11/8) amptelik afskeid geneem van ’n Olimpiese Spele wat as een van die suksesvolstes tot nog toe beskou is. In Frankryk is daar nie woorde waarmee iemand finaal gegroet word nie, hulle sê eerder “tot ons later weer sien”. Olimpiese skares in Parys is daarom net “tot wedersiens” gegroet toe die Somerspele 2024 tot ’n einde gekom het.

Ná 100 jaar se wag sedert Parys se vorige Speles in 1900 én 1924 weet niemand wanneer Frankryk en die Olimpiese Spele mekaar weer sal omhels nie. Parys is slegs die tweede stad wat die Olimpiese Somerspele drie keer aangebied het. Londen het die Spele in 1908, 1948 en 2012 aangebied.

Parys se derde Spele was gevul met passie. Die swemsensasie Léon Marchand is só toegejuig ná sy prestasies dat sport by verskeie ander Olimpiese arenas keer op keer onderbreek is wanneer die Franse eers hule nuwe liefling wou vereer.

Daar was ook baie ander opbouende stories – in die geval van Armand Duplantis, die Sweedse paalspringer, het hy sy eie wêreldrekord verbeter en Olimpiese goud verower.

Die Amerikaanse gimnas Simone Biles het ook weer geskitter. Ná haar terugslag in die 2021 Tokio-Spele, het sy teruggekeer om drie goue en ’n silwer medaljes te wen.

Céline Dion se musikale terugkeer tydens die Olimpiese opening, wat Edith Piaf se “Hymne à l’amour” (“Hymn to Love”) vanaf die Eiffeltoring se eerste verdieping gesing het, was emosiebelaai. Reën het belangrike gaste en ondersteuners op die openingseremonie deurdrenk, maar dit het nie die geesdrif gedemp nie.

‘Om die norme te breek’

Die Spele het ook laagtepunte beleef. Die laagste was waarskynlik kommentaar op sosiale media wat die vroulike boksers Imane Khelif en Lin Yu-ting geteiken het, sowel as die openingseremonie se kreatiewe spanne.

Tog, soos alle goeie romanse, het die somerromanse tussen Parys en die Olimpiese Spele aanhangers na meer laat smag. Daar was fel kritiek teenoor ander Speles die afgelope tyd.

China – as gasheer van die Somerspele 2008 en Winterspele 2022 – het beskuldigings van menseregtevergrype gekry. Daar was Rusland se toesmeerdery by sy Sotsji-winterspele in 2014, vinnig gevolg deur die begin van sy grondgrype in Oekraïne. Skandvlekke is op die Olimpiese handelsnaam agtergelaat.

So ook het die verkwisting en korrupsie van die 2016-Spele in Rio de Janeiro die owerheid in Parys vasbeslote gemaak om dinge anders te doen.

“Om die norme te breek” het vinnig die nie-amptelike leuse geword van Parys se Olimpiese organiseerders, wat daaraan gewerk het om die Spele se koolstofvrystellings te verminder en die Olimpiese model op te knap om dit minder anachronisties te maak.

Die resultate was duidelik. Die Parys-Spele was nie perfek nie, maar die Franse hoofstad het nuwe voorbeelde verskaf van hoe die Olimpiese Spele verbeter kan word. Die Olimpiese fakkel, byvoorbeeld – Parys se gebruik van elektrisiteit en LED-ligte het dit laat lyk of dit aan die brand was. Dit plaas druk op Los Angeles, die volgende gasheerstad, en Brisbane, Australië (2032), om nie terug te keer na tonne fossielbrandstowwe wat vir die fakkel moet brand nie.

Duur nuwe arenas of stadions wat ongebruik gelaat word ná ’n Olimpiese Spele, is ook iets waarop Parys verbeter het. Die komitee het eerder bestaande of tydelike arenas oor die stad heen gebruik.

Marchand en ander swemmers het in ’n swembad meegeding wat afgebreek en herbou sal word in die buitewyke van Parys waar kinders nie kan wag om daarin rond te spat nie. Die noordelike voorstad van Parys is die armste streek van Frankryk en het ’n tekort aan swembaddens – die rede waarom baie van sy kinders nie kan swem nie. Nog ’n innovasie was al die ander sportsoorte wat op geskiedkundige plaza’s, geboue, kastele en parke afgespeel het.

Wanneer die grasperke teruggegroei het, sal daar meestal net herinneringe wees van al die tydelike arenas waar boogskiet, perdrybyeenkomste en ander sportsoorte so glansryk gelyk het soos Parys se loopplankvertonings teen ikoniese agtergronde.

Die Eiffeltoring, Versailles-paleis, die koepelvormige Grand Palais (wat in ’n asemrowende arena vir skermsport en Taekwondo omskep is) en ander monumente het in eie reg Olimpiese sterre geword. Die gebruik van die stad Parys het gewys dat die Olimpiese Spele by hul gashere kan – en moet – aanpas, nie andersom nie.

Die stad se ambisies het egter soms met ’n oormaat ywer flankeer. Om driekampatlete en marathonswemmers iets te laat doen waarvoor baie Parysenaars sal terugdeins – om in die troebel Seinerivier te duik en swem – was problematies. Die water is herhaaldelik te vuil beskou om in te swem en het tot die uitstel en verskuiwing van die mansdriekamp gelei.

Die burgemeester van Parys, wat voor die Spele in die Seine geduik het om te demonstreer dat die water nou swembaar is, sê €1,4 miljard ($1,53 miljard) is vir die skoonmaak van die rivier bewillig – een van die Spele se mees transformerende nalatenskappe. Tog het die kommer oor watergehalte vrae laat ontstaan oor of baie Parysenaars sal induik wanneer die burgemeester beplan om die Seine volgende somer oop te stel vir openbare swem.

Daar was baie sekuriteit nodig om die openingseremonie langs die rivier te beveilig in ’n stad wat herhaaldelik deur ekstremistiese aanvalle in 2015 getref is. Dit was finansieel pynlik vir nabygeleë ondernemings wat weens die sekuriteitskordon klante verloor het.

Binne die hoë-sekuriteitsborrel van die atletedorp het sommige gekla oor die ekovriendelike kartonbeddens, kamers wat nie lugversorging gehad het nie en tekorte aan sekere kosse – gevolge van Parys se strewe na volhoubaarheid en afvalvermindering.

Tog het die vreugdevolle skares gewys dat die gewilde uitspraak meer positief as negatief was. Die organiseerders se slagspreuk was “Games Wide Open”. Om sulke geluk op strate te sien wat so onveilig gevoel het toe Al-Kaïda en die Islamitiese Staat se gewapende mans en selfmoordbomaanvallers in 2015 terreur gesaai het, het dit laat lyk of Parys se lang herstel voltooi is.

Normaliteit sal ná die Paralimpiese Spele van 28 Augustus tot 8 September hervat. Maar die Spele sal aanhou lui in Parys. Die oorwinningsklok in die Olimpiese stadion wat wen-atlete ter viering gelui het, sal ’n nuwe tuiste kry in die gerestoureerde Notre-Dame. 

Die beplande heropening van die katedraal in Desember, ná meer as vyf jaar van herbouing ná die 2019-brand, is die volgende groot mylpaal op Parys se horison.

Die katedraal se priester Olivier Ribadeau Dumas het gesê die klok sal in die dak bo die altaar hang en gelui word voor vieringe. Die klokkespel sal dien as blywende herinnering aan die Spele se “buitengewone atmosfeer” en die Olimpies-geïnspireerde “eenheid van die Franse mense wat baie mooi was”, het Dumas gesê.

‘Teken van hoe Spele sy stempel op Frankryk afgedruk het’

“Hierdie klok sal die teken wees van hoe hierdie Spele sy stempel op Frankryk afgedruk het,” het Dumas gesê. “Dit maak my regtig gelukkig.”

Ná 18 dae, 329 goue, silwer- en bronsmedaljes en talle storielyne het die Olimpiese Spele 2024 Sondag ten einde geloop met ’n hoëbegroting-afsluitingseremonie.

Musiek in die stadion was van die Franse optredes van Phoenix en Air, met optredes deur Angèle, Kaminsky en Vannda terwyl vuurwerke die naghemel verlig het. Later het die Amerikaanse kunstenaar H.E.R. die Amerikaanse volkslied die Star Spangled Banner gesing as deel van die oorhandiging vir die volgende Spele, in Los Angeles.

Marchand en ses atlete van die vlugtelingspan het eindelik die Olimpiese vlam geblus voordat Thomas Bach, president van die Internasionale Olimpiese Komitee, sy slotopmerkings gelewer het.

Vir talle toeskouers en atlete sal die satiriese verhaal van Yusuf Dikec voortleef as een van die gunstelingstories van 2024 se Olimpiese Spele, het die Deutcshe Welle berig.

Dié Turkse skieter het wêreldwyd aandag getrek met sy koel houding en skietstyl wat wyd op sosiale media versprei is, met een hand in die sak en die minimum gesofistikeerde toerusting. Dikec en sy spanmaat Sevval Ilayda Tarhan het silwer gewen in die 10 m lugpistool gemengde spankompetisie op die Parys-Spele.

@theaccnz Introducing the John Wick of the Olympics! Yusuf Dikeç turned up to the Paris Olympics with one goal... To get his dog back! #nzpodcast #theagenda #theacc #paris2024 #olympics #johnwick #yusufdikec ? original sound - The ACC

’n Satiriese verhaal oor Dikec is daarna gepubliseer wat aangevoer het hy het “eers onlangs begin skiet” en dat hy “die eerste keer ’n geweer opgetel het tydens sy besonder frustrerende egskeidingsaak”. Daarvolgens skryf Dikec sy sukses toe aan sy “onverbiddelike dryfkrag om sy eksvrou verkeerd te bewys” en dat hy “net ’n naweek saam met sy kinders wou hê, en ook sy hond wil terughê”. “Sharon, as jy hierna kyk, ek wil my hond terughê,” het die Olimpiese wenner glo gesê.


Boonop het dié satire nou bygedra tot ’n nuwerwetse wenhouding wat atlete en sokkerspelers inneem wanneer hulle oorwinning vier.

Armand Duplantis van Swede het daarna sy Olimpiese rekord in die paalspring vir mans by die Stade de France met ’n sprong van 6,25 m (21,3 voet) behaal, wat sy wêreldrekord van 6,24 m in die Diamantliga in China verbeter het. Hy het sy goue medaljesukses met die “Yusuf Dikec-wenhouding” gevier.

Nina Kennedy, Australiese gouemedaljewenner in die paalspring vir vroue, het ook Dikec se gewilde houding ingeneem.

Die Suid-Afrikaanse aflosspan nadat hulle silwer gewen het. Foto: X

Nog ’n atleet wat sy oorwinning gevier het deur met een hand in sy sak te poseer asof hy ’n geweer skiet, was die Jamaikaan Roje Stona, wat die Olimpiese rekord in die diskusgooi verbeter en goud gewen het.

Die Hongaarse atleet David Betlehem, wat die eindstreep in die derde plek oorgesteek het in die marathonswemwedloop waar atlete in die Seinerivier deelgeneem het, het tydens sy vreugdevertoning die “Yusuf Dikec-houding” ingeneem, so ook die Suid-Afrikaanse aflosspan nadat hulle silwer losgehardloop het.

Yusuk Dikec se bekende houding kan nou ook op sokkervelde gesien word. Irfan Can Kahveci, wat 'n vryskopdoel in die 80ste minuut in Fenerbahce se eerste wedstryd teen Lille in die UEFA Champions League se derde kwalifiserende ronde aangeteken het, het ’n “Yusuf Dikec” gedoen terwyl hy saam met sy spanmaats gejuig het.

Cyriel Dessers, die Nigeriese aanvaller van Skotland se Rangers-span, het met Dikec se houding gereageer terwyl hy feesgevier het nadat hy in die bykomende tyd van ’n gelykopuitslag van 1-1 met Dynamo Kiev van Oekraïne in die Kampioeneliga se derde kwalifiserende ronde aangeteken het.

Steven Berghuis, wat in die 28ste minuut van die wedstryd ’n doel aangeteken het waarin die Nederlandse span Ajax Panathinaikos van Griekeland met 1-0 in die UEFA Europa League kwalifiserende ronde verslaan het, het ook sy vreugde met ’n “Yusuf Dikec” gewys.

Dit is egter nie die einde vir Parys nie, want die Paralimpiese Spele begin op 28 Augustus.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.