International
Krokodil ‘vang’ olifant aan sy stert─── 16:39 Thu, 02 Mar 2023
‘n Krokodil wat dalk meer afgebyt het as wat hy kon kou, is droëbek gelaat toe hy ‘n olifant se stert in die rivier beetgekry het. Ná 'n onstuimige bakleiery moes hy die aftog blaas.
Die Zambiese natuurgids, Emmanuel Sauti, het die voorval op kamera vasgelê en met LatestSightings.com gedeel.
"Ons was op pad terug kamp toe ná ‘n paar dae by die huis. Dit was net ‘n gewone rit, of so het ons gedink, minwetend dat ons op die punt was om iets uitsonderliks te aanskou.
“Terwyl ons langs die Luangwa-rivier ry, het ons eers ‘n rumoer in die water gehoor en toe sien ons die skuldiges – ‘n olifant en ‘n krokodil!
“Ek kon nie help om 'n mengsel van emosies te voel nie. Aan die een kant was ek 'n bietjie bang vir die krokodil. Ek bedoel, weet jy hoe groot olifante kan word?
“Dit was 'n gesig om te aanskou! Die olifant het lekker baklei en die krokodil het nie teruggedeins nie."
Krokodille teiken gewoonlik kleiner wildsbokke en visse vir kos. Dit is ongehoord dat 'n krokodil ‘n olifant sal probeer doodmaak. Dit was óf uiterste honger en desperaatheid óf oordrewe ambisie wat die krokodil daartoe gedryf het om 'n olifant aan te vat.
"Op die ou end het die olifant daarin geslaag om die krokodil van sy stert af te skud en die rivier oor te steek. Wat 'n verligting. Ek moet sê, dit was een van die opwindendste oomblikke van my loopbaan as 'n natuurgids. Dit is ook die eerste keer dat ek 'n olifant met 'n krokodil sien baklei, wat dit des te meer spesiaal maak.
"As 'n gids het ek ongelooflike natuurlewe waargeneem, maar hierdie een vat beslis die koek.”