On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Geen wonde aan Danie Coetzee (75) se liggaam – lykskouer

───   MORNÉ VAN ROOYEN 21:10 Sun, 19 Feb 2023

Geen wonde aan Danie Coetzee (75) se liggaam – lykskouer | News Article
Wyle Danie Coetzee (75) en sy vrou, Martie de Jager. Foto: Facebook/Voetspore

’n Lykskouer kon nog nie bo redelike twyfel vasstel wat die dood van ’n oud-Vrystaatse boer in Paraguay veroorsaak het nie omdat sy oorskot te lank ná sy dood gevind is.

Danie Coetzee (75) is luidens berigte die aand van Sondag 12 Februarie naby sy huis ontvoer. Sy vermeende ontvoerders het hom glo gedwing om sy vrou, Martie de Jager, te bel en ’n losprys van VS$300 000 (sowat R5,4 miljoen) te eis, maar daarna is nie weer van hom gehoor nie.

Die Paraguayaanse poniekoerant Diario Popular het Vrydag berig die polisie ondersoek die moontlike betrokkenheid van sy dogter Dané (35) by die misdaad, wat met varke op haar pa se grond boer. Luidens die berig het sy onlangs ’n stuk grond by hom gekoop vir dieselfde bedrag as die losprys.

Coetzee, wat op die plaas Vaalspruit in die distrik Smithfield geboer het tot hy 30 jaar gelede na Paraguay verhuis het, se lyk is Vrydag in ’n plantasie sowat 5 km van sy boerdery gekry. Hy het hemploos met sy gesig na bo gelê. Diario Popular berig die forensiese patoloog, dr. Pablo Lemir, kon Coetzee se identiteit tydens die nadoodse ondersoek bevestig.

Die Paraguayaanse poniekoerant Diario Popular het die naweek berig oor Danie Coetzee se lykskouing. (Dié skermgreep is ’n Afrikaanse vertaling van hul Spaanse tuisblad.)

Lemir kon egter nie vasstel wat die bejaarde boer se dood veroorsaak het nie weens die toestand van ontbinding, en die reën en hitte van die afgelope week. “Ons het nie wonde van ’n vuurwapen of ’n mes gevind nie,” het hy aan die poniekoerant gesê. Albei sy voete en regterhand het ontbreek, maar dit is deur die toedoen van diere.

Patoloë voer nou toksikologiese ontleding van sommige van die oorledene se organe uit om vas te stel of vergifting tot sy dood gelei het. Dis ook nog onseker of hy op die plek gesterf het waar sy oorskot gevind is, en of hy daarheen gebring is nadat hy gesterf het.

Netwerk24 berig intussen Coetzee se broer Mauritz Coetzee sê ’n patoloog het bevind Coetzee is aan ’n hartaanval oorlede, of ’n beroerte. Hy sê die lykskouing bring berusting vir Coetzee se naasbestaandes omdat dit blyk hy het nie gely nie en “gerugte word die nek ingeslaan dat ’n familielid by die ontvoering betrokke was”.

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.