On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Oscar
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Gerben
Listen Live Streams

International

SA reddingspanne in Turkye keer Vrydag terug

───   11:36 Fri, 17 Feb 2023

SA reddingspanne in Turkye keer Vrydag terug | News Article
PHOTO: Facebook

Die noodlenigingsorganisasie, The Gift of the Givers, se Suid-Afrikaanse reddingspanne wat in Turkye ontplooi is ná die aardbewing, het hul reddingswerk daar voltooi en sal Vrydagaand huis toe vertrek.

Meer as 41 000 mense is dood in die rampspoedige aardbewing wat die land se suidelike dele en die noordweste van Sirië vroeër vandeesmaand geskud het.

Suid-Afrikaanse noodpersoneel, insluitend die SAPD se K9-eenheid en mediese personeel, het verlede week na die rampgebied in Hatay gegaan om te help.

Stigter van die Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman, sê die span het 'n 80-jarige vrou gered wat vir agt dae in die puin van 'n ineengestorte gebou vasgekeer was.

Hy sê die dae lange reddingsending het 'n swaar emosionele tol geëis.

“Dit was 'n baie emosionele tyd vir die spanne. Waar hulle ook al gegaan het, het mense hulle gebel en gevra om asseblief hier of daar te grawe, met verlange, hoop en pyn in hul oë.

"Die spanne word gekonfronteer met hierdie tipe emosies en mense van oraloor wat wil hê dat iemand hul geliefdes moet opgrawe. Ongelukkig is daar baie gebiede wat die soekspanne nie kon bereik nie omdat die stad en die verwoesting net te groot was."

Sooliman sê die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Turkye het Donderdagaand die spanne vir hul werk vereer. Hulle vlieg vanaand van Istanbul terug na Johannesburg en Kaapstad. Die spanne is in 'n goeie luim en het baie vermag."

Intussen het die Verenigde Nasies 'n beroep op $1 miljard gedoen om die groeiende humanitêre krisis in dié twee lande aan te spreek.

Baie oorlewendes probeer die stukke optel in ysige toestande sonder kos, water en toilette.

OFM News

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.