International
Brittanje soek 10 000 bosbouers om bome te plant─── 16:58 Tue, 07 Feb 2023
![Brittanje soek 10 000 bosbouers om bome te plant Brittanje soek 10 000 bosbouers om bome te plant | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/bb7a56ec-a83a-46ff-b45a-3ad4d3641acd.jpg?crop=0,26,600,364)
’n Tekort aan bosbouers in Brittanje noop die regering om gratis bosboukursusse aan te bied ten einde sy boomplant-doelwit om klimaatsverandering teen te werk, te bereik.
Opleiding word verskaf in die instandhouding van kettingsae, houtkap, woudbestuur, die oprigting van houtheinings en die verkoop en bemarking van hout.
Volgens ‘n berig deur The Guardian, het die Instituut vir Geoktrooieerde Bosbouers reeds in November 2021 gewaarsku dat die bedryf 'n tekort van 10 000 opgeleide werkers het.
As die poste nie gevul word nie, sal die regering nie in staat wees om sy klimaatdoelwitte, om Brittanje se woudoppervlak teen 2050 van 14,5% tot 16,5% te verhoog, te bereik nie.
Dit behels dat tot 30 000 hektaar per jaar met bome aangeplant moet word.
‘n Bosboukursus beloop £700 000 en die regering het £750 miljoen vir kwalifiserende kursusse uit sy Natuur vir Klimaatfonds beskikbaar gestel.
Die regering hoop dat die kursusse mense sal aanspoor om 'n loopbaan in bosbou te oorweeg, sodat die sektor kan groei en bosboudoelwitte bereik kan word. Dit kan ook nuwe werkgeleenthede in die “groen” industrie skep en die ekonomie ’n hupstoot gee.
Die minister van bosbou, Trudy Harrison, sê: “Meer woude is noodsaaklik vir die natuur se herstel en om Brittanje se hout-sekerheid te verhoog.
“Ons het reeds baie fantastiese bosbouers, maar daar is nie genoeg om ons woude in die komende dekades op die beplande skaal te kweek en te bestuur nie.”