On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Elon Musk nie meer wêreld se rykste man

───   08:34 Wed, 14 Dec 2022

Elon Musk nie meer wêreld se rykste man | News Article
Elon Musk and Bernard Arnault. FOTO: Forbes

Elon Musk is nie meer die wêreld se rykste man nie ná ’n skerp daling in die waarde van sy aandele in die elektriese motormaatskappy Tesla.

Volgens beide Forbes en Bloomberg is Musk deur die Franse sakemagnaat Bernard Arnault, medestigter, voorsitter en uitvoerende hoof van Louis Vuitton Moët Hennessy (LVMH), die wêreld se grootste luukse-goederemaatskappy, onttroon.

Musk is nou sowat $178 miljard werd terwyl Arnault ‘n gesonde bankbalans van $188 miljard het.

Musk, uitvoerende hoof en die grootste aandeelhouer in Tesla, het in Oktober die sosiale netwerk Twitter vir $44 miljard oorgeneem, ná maande se oor-en-weer gestryery.

Hy het in April 'n aanbod gemaak maar dit in Julie teruggetrek ná kommer oor die aantal vals rekeninge op die platform. Twitter het regstappe geneem om Musk by sy aanbod te hou.

Beleggingskenners reken die “sirkus” rondom die Twitter-transaksie het Tesla se aandeelprys nadelig beïnvloed.

"Musk het van 'n Tesla-superheld na 'n skurk in die oë van Wall Street gegaan," het Dan Ives van die beleggingsfirma Wedbush Securities aan die BBC gesê.

"Die Twitter-sirkusvertoning het die Musk-handelsmerk seergemaak. Musk is Tesla en Tesla is Musk."

Musk het miljarde dollars van Tesla-aandele verkoop om sy Twitter-aankoop te help finansier, wat bygedra het tot die daling in Tesla-aandeelpryse.

Beleggers was ook bekommerd dat die vraag na die maatskappy se elektriese motors kan verlangsaam, aangesien die ekonomie verswak, hoër leenkoste kopers ontmoedig en ander maatskappye hul aanbiedinge vir elektriese voertuie ’n hupstoot gee.

Tesla is ook geraak deur die herroepings van voertuie en regeringsondersoeke van ongelukke.

BBC

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.