Inspiration
Ontsluit jou kind se verbeeldingswêreld met lees─── 08:20 Fri, 16 Jun 2023
![Ontsluit jou kind se verbeeldingswêreld met lees Ontsluit jou kind se verbeeldingswêreld met lees | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/2661e104-ead8-4a07-884d-b30c45c27850.jpg?crop=0,41,800,491)
Kinders wat minstens die eerste ses jaar van hul skoolopleiding in hul moedertaal onderrig word, se algehele skolastiese prestasie is beter as dié wat in ’n addisionele taal moet leer.
Ter viering van Jeugmaand kyk die Afrikaanse privaat universiteit Akademia na die belangrikheid van lees vir kinders. In verskeie studies is al bevind dat om kinders van ’n jong ouderdom af bloot te stel aan boeke en lees, veral in hul moedertaal, gunstige gevolge het vir die kind se ontwikkeling op verskeie vlakke, sê Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die Skolemark by Akademia.
Lees- en taalvaardighede begin reeds in die vroeë kinderontwikkelingsfase tot die ouderdom van ses. “Wanneer ’n kind lees, of selfs wanneer daar hardop vir ’n kind gelees word, neem dit daardie kind na nuwe hoogtes – letterlik en metafories.
“Letterlik ten opsigte van die kind se ontwikkeling en metafories in die sin dat dit die verbeeldingswêreld van ’n kind ontsluit. Lees is ’n noodsaaklike toegangspoort tot goeie taalvaardighede selfs voor ’n kind verbaal kan kommunikeer.”
Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die Skolemark by Akademia. Foto verskaf
Pretorius sê Hannah Sheldon-Dean van die Child Mind Institute se navorsing toon ouers wat vir hul kinders lees, dra daartoe by dat die neurologiese grondslag vir effektiewe taalgebruik en geletterdheid vasgelê word.
Volgens Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, is die voordele van moedertaalonderrig reeds meermale in navorsing bewys.
“Wanneer die beginsels van lees eerstens in die moedertaal aangeleer is, word dit soveel makliker om daardie vaardighede toe te pas op ’n addisionele taal,” sê Pretorius. “Daarom is dit belangrik dat kinders van ’n jongs ouderdom af blootgestel word aan lees in hul moedertaal.”
Aangename ervarings met boeke kweek ’n liefde vir lees. Foto: Pixabay
In navorsing aan die Universiteit van Texas in die VSA is vyf vroeë leesvaardighede geïdentifiseer wat noodsaaklik is vir leer: fonemiese bewustheid, klanke, woordeskat, leesbegrip en vlotheid.
Benewens hierdie leesvaardighede is daar ook ander vaardighede wat deur lees bevorder word. “Om gereeld te lees stel kinders in staat om hul kommunikasievaardighede uit te brei en hul geheue te verbeter,” sê Pretorius.
“Lees kan selfs ’n invloed hê op die sielkundige welstand van kinders. Wanneer ouers tyd saam met hul kinders rondom ’n storieboek deurbring, word die verhoudingsbande versterk en vestig kinders maklik ’n positiewe verbinding met lees.”
‘Kinders kan op verskeie maniere gemotiveer word om ’n liefde vir lees’
Volgens haar weerspieël kinders se leesgewoontes ten sterkste die ingesteldheid van hul ouers en die waarde wat hulle aan lees heg. Pretorius sê kinders kan op verskeie maniere gemotiveer word om ’n liefde vir lees te aan te kweek, byvoorbeeld:
• Berei ’n toegewyde leeshoekie in die huis voor met gemaklike sitplek en genoegsame lig.
• Reël aktiwiteite wat deur stories geïnspireer is, soos ’n besoek aan ’n troeteldieretuin of plaas nadat die verhaal van Die rooi hennetjie of Die drie varkies gelees is.
• Kies ’n verhaal soos Die gestewelde kat en nadat die boek gelees is, kan die gesin saam die rolprent saam kyk.
• Begin ’n boekklub en maak lees ’n sosiale geleentheid.
• Moenie boeke met baie visuele voorstellings onderskat nie, hierdie stories bevorder weer ’n ander vorm van leesbegrip.
• Identifiseer onderwerpe waarin jou kind belangstel. ’n Boek oor ’n rekenaarspeletjie is steeds ’n boek en as dit jou kind aan die lees kry, hoekom dit dan nie aanmoedig nie?
• Dis baie belangrik dat lees nie as ’n plig of ’n taak gesien moet word nie maar eerder aangemoedig word as ’n pret-aktiwiteit of vir ontspanning.
Ouers hoef nie die bank te breek om hul kinders aan die lees te kry nie. Foto: Pixabay
Die koste van boeke hoef ook nie ouers af te skrik om vir hul kinders goeie leesstof te bekom nie, sê Pretorius. Daar is verskeie platforms waar ouers gehalte- en bekostigbare kinderboeke in die hande kan kry, benewens gewone boekwinkels. Voorbeelde hiervan sluit in:
• ’n goeie tweedehandseboekwinkel;
• jou plaaslike biblioteek;
• die skool se mediasentrum; en
• aanlyn inkopieplatforms.
Akademia het onlangs ’n Afrikaanse pret-aktiwiteitsboek vir kinders bekendgestel wat baie maklik bekombaar is en gemik is op die gr. 4–7-mark. Fontieland kan digitaal afgelaai word of in harde kopie bestel word teen ’n bekostigbare prys. In dié pretboek word ook verskillende leesstrategieë toegepas, wat kinders help om op ’n genotvolle manier hul leesvaardighede te ontwikkel.
Fontieland is ’n aktiwiteitsboekie waarin uiteenlopende leesstrategieë toegepas word.
“Nie net is die boekie visueel stimulerend nie,” sê Pretorius; “dit bevorder ook verskeie vaardighede, soos woordherkenning, probleemoplossing en die uitbreiding van kinders se woordeskat deur die bekendstelling van nuwe woorde wat met ’n hoëronderwysinstelling verband hou.”