On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Health

124-jarige se resep vir lang lewe: ‘Varkvet en stap ná ete’

───   12:46 Wed, 22 Jan 2025

124-jarige se resep vir lang lewe: ‘Varkvet en stap ná ete’ | News Article
Qui Chaishi is selfversorgend en behartig moeiteloos daaglikse take soos om die vuur aan te steek en haar ganse kos te gee. Foto: X/China Daily

Qui Chaishi, wat in 1901 gebore is en op 1 Januarie ’n indrukwekkende 124 jaar oud geword het, skryf haar lang en gesonde lewe toe aan haar liefde vir varkvet, om ná ete te gaan stap en haar positiewe uitkyk op die lewe.

Terwyl haar ouderdom nie amptelik buite China geverifieer is nie, is haar geboortedatum in die land se registrasiestelsel aangeteken, berig The Star

Sy woon in Nanchong in die suidweste van China se Sichuan-provinsie. Haar gesin strek oor ses generasies, met die jongste lid wat net agt maande oud is, berig South China Morning Post.

Qui Chaishi gaan stap ná ete om haar spysvertering “aan te help”. Foto: X/China Daily

In ’n onlangse onderhoud met plaaslike media het Qiu haar lang lewe aan ’n eenvoudige en gedissiplineerde leefstyl toegeskryf. Sy eet drie maaltye per dag, gaan stap ná ete om haar spysvertering “aan te help” en gaan slaap teen 20:00.

Sy is selfversorgend en behartig moeiteloos daaglikse take soos om haar hare te kam, die vuur aan te steek en haar ganse kos te gee. Sy klim selfs trappe met gemak.  

Qiu se gunstelinggereg is ’n pap gemaak met pampoen, winterspanspek en fyngemaakte mielies, gegarneer met ’n lepel varkvet. Sy het ’n voorliefde vir varkvet, maar eet dit nou net in matige porsies op aanbeveling van haar dokter, sê haar kleindogter.

Lewe gevul met ontberinge

In Qui se lang lewe het sy gesien hoe China van ’n monargie na ’n republiek omgeskakel het. Sy sê haar lewe was gevul met talle ontberinge. 

Sy onthou hoe baie mense dood is weens hongersnood, dikwels terwyl hulle na eetbare plante in die berge gesoek het.

Voor haar huwelik was Qiu in haar dorpie bekend vir haar skerp rekeningkundige vaardighede en merkwaardige fisieke krag. Sy het uitdagende take hanteer soos om landerye te ploeg en klippe op te stapel.

Voor haar huwelik was Qiu in haar dorpie bekend vir haar skerp rekeningkundige vaardighede. Foto: X/China Daily

Nadat haar man in haar 40’s onverwags dood is, het sy haar vier kinders alleen groot gemaak. Deesdae woon sy saam met haar kleindogter in Nanchong. 

Hoewel haar liggaam begin verswak het nadat sy 100 jaar geword het, is haar helderheid van verstand steeds dieselfde.

‘Koning van die hel het van my vergeet!’

Oor haar lang lewe sê sy: “My broers en susters, my man en seun is lank gelede oorlede. Die koning van die hel moes van my vergeet het!”

Volgens berigte woon 960 mense ouer as 100 jaar in Nanchong en word inwoners se langlewendheid toegeskryf aan die streek se unieke omgewing en leefstyl. Die gemeenskap se gedeelde praktyke, dieet en sosiale verbintenisse word as beduidende faktore in hul lewensgehalte beskou.

OFM Nuus/van der Westhuizen mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.