On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Oscar
Listen Live Streams

Health

Diabetes: Gesond eet en leef kan talle kroniese siektes vermy

───   HEIDRÈ MALGAS 09:36 Sat, 09 Nov 2024

Diabetes: Gesond eet en leef kan talle kroniese siektes vermy | News Article
Lorna Groenewald, senior dieetkundige by die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement. Foto verskaf

Wêrelddiabetesdag is die grootste diabetesbewustheidsveldtog ter wêreld. Die tema vir Wêrelddiabetesdag op 14 November is ”Toegang tot diabetesversorging”.

“4.5 miljoen Suid-Afrikaners wat in Suid-Afrika woon, leef met diabetes. Een uit elke drie volwassenes loop die risiko om diabetes te ontwikkel weens ’n ongesonde dieet, lae vlakke van oefening, sowel as genetika,” sê Lorna Groenewald, senior dieetkundige by die Noord-Kaapse departement van gesondheid.

Sy sê ook dat meer as 90% van die mense in Suid-Afrika by wie diabetes gediagnoseer is, dié is wat tipe 2 het – ’n toestand wat meer ’n lewenstyl faktor of ‘n gevolg van ’n ongesonde leefstyl is.

“Gewigsbeheer is baie belangrik in die voorkoming van tipe 2-diabetes, maar ook vir ander siektes. Deur ’n gesonde liggaamsgewig te handhaaf, verlaag jy jou risiko vir enige chroniese siektes.”

Unicef sê dat in baie gevalle, Suid-Afrikaners beperk is in hul voedselkeuses weens die gebrek aan beskikbaarheid van bekostigbare en voedsame kos. Daar is egter ander drywers van swak dieetgewoontes.

Vinnige en verwerkte kos, wat tipies vol ongesonde vette, suikers, sout en preserveermiddels is, word aggressief bemark en die verbruik daarvan het aansienlik toegeneem. Dit het veroorsaak dat mense van alle ouderdomme geneig is om voedselkeuses te maak wat nie goed is vir hul onmiddellike en langtermyn gesondheid nie.

Oorgewigsyfers in die land het gedurende hierdie tydperk ook dramaties gestyg. Ongeveer 13% van kinders onder vyf jaar is oorgewig, meer as dubbel die wêreldgemiddelde.
 

Onder jong mense (ouderdom 20-24 jaar) is die syfers kommerwekkend met 60% van vroue en 14,5% van mans wat oorgewig of vetsugtig is. Slegs 29% van jong mense neem deel aan voldoende matige fisieke aktiwiteit. Dit het ’n beduidende impak op die ontwikkeling van tipe 2-diabetes.

Volgens Discovery produseer die pankreas by tipe 2-diabetes nie genoeg insulien nie, ’n hormoon wat die beweging van suiker na die liggaamselle reguleer. 

Die liggaamselle reageer ook nie behoorlik op die insulien nie en neem dus minder suiker op. Dit beteken dat daar te veel suiker, of glukose, in die bloed sirkuleer en nie al die verskillende selle bereik wat dit nodig het nie. Hierdie hoë suiker vlakke kan lei tot versteurings van die sirkulêre, senuwee- en immuunstelsels.

Tekens en simptome wat ook ’n verhoogde risiko aandui:

•             Moegheid of ’n gevoel van ongewone uitputting

•             Verhoogde eetlus/honger en onverklaarbare gewigsverlies

•             Verhoogde dors en gereelde urinering

•             Dowwe visie

•             Doofheid of tintelende sensasies, veral in die hande en voete

•             Wonde wat nie blyk te genees nie

Simptome kan stadig oor verskeie jare ontwikkel en aanvanklik skaars merkbaar voorkom. Maar as jy ’n kombinasie van tekens en simptome vroeg genoeg herken, kan jy ingrypings doen.

Groenewald noem verder dat hulle elke jong persoon aanmoedig om gereeld getoets te word en dat dit belangrik is om getoets te word indien jy enige simptome het.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.