On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Health

Viering van Wêrelddiabetesdag beklemtoon gesonde lewenskeuses

───   HEIDRÈ MALGAS 14:06 Fri, 08 Nov 2024

Viering van Wêrelddiabetesdag beklemtoon gesonde lewenskeuses | News Article
Genetika speel ’n groot rol in die ontwikkeling van diabetes. Foto: Shutterstock

Diabetes is aan die toeneem onder jong mense, omdat hulle leefstyl in baie gevalle geensins gesond is nie.

Wêrelddiabetesdag word jaarliks wêreldwyd op 14 November gehou om mense bewus te maak van gesonde lewenskeuses.

“Genetika speel ’n groot rol in die ontwikkeling van diabetes, veral as diabetes redes by ’n mens se ouers of grootouers gediagnoseer is,” sê Lorna Groenewald, senior dieetkundige by die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement.

“’n Gesonde en gebalanseerde dieet help nie net met die behandeling van diabetes nie, maar ook met die voorkoming daarvan.” Haar raad is om ’n verskeidenheid rou vrugte en groente te eet.

’n Gebalanseerde dieet kan suikersiekte help voorkom. Foto: niddk.nih.gov

Appels en aartappels moet eerder met die skil en al geëet word. ’n Mens kan afwisselend boontjies en lensies eet. Dit is ook belangrik om voldoende vloeistof in te neem.

“Dit is goed om ’n groot verskeidenheid kosse te eet, soos hoenderborsies sonder die vel, rooivleis en natuurlik proteïene. Laevetproteïene is baie belangrik,” sê Groenewald.

“’n Gebalanseerde dieet kan suikersiekte help voorkom. ’n Porsiebeheerde ete is noodsaaklik. Op ’n mens se bord moet jy vrugte of groente, ’n laevetproteïen en ’n kwart stysel, verkieslik volgraan, hê.

“Dit help ook met gewigsbeheer. Dit is baie belangrik om drie maaltye per dag te eet en deur die dag aan gesonde versnaperinge te peusel.”

“Kos soos wit rys en wit pasta veroorsaak ’n skerp styging in bloedsuikervlakke en word vinnig deur die liggaam opgeneem. Dit lei tot ’n vinnige suikervlakstyging, wat skielik weer afneem, wat beteken dat wanneer jou suikervlakke val, jy weer lus voel om iets te eet.”

Sy sê dat dit nie net hunkering veroorsaak nie, maar ook onstabiele bloedglukosevlakke.

‘Gereelde oefening is belangrik’

“’n Gesonde dieet word vir alle Suid-Afrikaners aanbeveel, nie net vir diegene met diabetes nie, maar ook om dit en ander siektes te voorkom.”

Gereelde oefening is belangrik. Oefening kan help om baie siektes te voorkom en te beheer, insluitend hartsiektes, beroerte, tipe 2-diabetes, en sekere kankers.

Dit kan ook help om ’n gesonde gewig te handhaaf en die sterkte van bene en spiere te verbeter.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.