General
Vandag in die Nuus: 22 September 2022─── 18:30 Thu, 22 Sep 2022
Hierdie is van jou hoofstories vandag, 22 September 2022, soos berig op OFM, die klank van jou lewe.
Die rentekoers is terug na vlakke wat laas voor Covid-19 gesien is.
Dit, nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die koers met 75 basispunte verhoog het - vir 'n tweede agtereenvolgende maand.
Drie lede van die monetêre beleidskomitee het ten gunste van die verhoging van 75 basispunte gestem, terwyl twee 'n verhoging van 100 basispunte wou hê.
Die skuif bring die repokoers op 6,25% te staan, en die primakoers op 9,75%.
Op 'n nuwe huislening van R2 miljoen verhoog dit die maandelikse paaiement met meer as R970.
Sedert November verlede jaar is maandelikse paaiemente op 'n huislening van R2 miljoen byna R3 400 duurder weens 'n reeks rentekoersverhogings.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag hul kommentaar teen die regering se beplande rassekriteria in die regsberoep ingedien by die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel.
Dié kode vereis onder meer dat die staat regswerk en openbare fondse aan prokureurs, firmas en advokate toewys, gebaseer op hul geslag en ras.
AfriForum se Ernst van Zyl sê dat hierdie Konsep Regsektorkode teen die Grondwetlike beginsels van nie-rassigheid indruis.
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het onder hewige kritiek deurgeloop oor die stand van sy finansies en sy versuim om vorige finansiële state betyds in te dien.
‘n Lid van die ANC, Thokozile Malinga, sê dit maak dit moeilik vir die Parlement om toesig te hou oor die lugdiens.
Die SAL se raad en uitvoerende bestuur het voor die portefeuljekomitee verskyn oor die stand van verskeie uitstaande oudits tussen 2017 en 2022.
Vier gesinslede het in die Kuruman landdroshof verskyn in verband met beweerde tenderbedrog.
Die bedrog, by die mynreus Anglo American se Kumba Iron Ore Kathu myn, het 'n waarde van R61 miljoen.
OFM-nuus se korrespontent Roderick Titus berig die tender is glo as gevolg van 'n wanvoorstelling toegeken.
Borgtog van tussen R50 000 en R30 000 is toegestaan terwyl die verdagtes weer op 3 November vanjaar in die hof moet verskyn.
LUISTER: