On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Entertainment

Bloemfontein, Bethlehem: Hier’s idees vir daguitstappies dié feestyd

───   MORNÉ VAN ROOYEN 07:00 Thu, 07 Nov 2024

Bloemfontein, Bethlehem: Hier’s idees vir daguitstappies dié feestyd | News Article
Daguitstappies is ’n wonderlike manier om Sentraal-Afrika se te verken. Foto: Morné van Rooyen

As jy een van duisende Sentraal-Suid-Afrikaners is wat vanjaar noustrop trek weens stygende lewenskoste en hemelhoë rentekoerse, is ’n strandvakansie waarskynlik buite jou bereik.

Maar as jou wrak nog kan loop en die pad is oop, om Koos du Plessis aan te haal, is ’n daguitstappie binne 200 km vanaf jou stad of dorp beslis binne bereik. Besoek ons webtuiste gereeld vir nog bestemmings in die aanloop tot die groot blaaskans.

Bloemfontein

• Die Gariepdam is ’n oase in die dorre gebied waar die Vrystaat, Noord-Kaap en Oos-Kaap bymekaarkom. Dis net 120 km suid van Bloemfontein met die besig N1 en bied volop doendinge vir die hele gesin: hengel, voëlkyk, bootvaarte en sommer net uitspan langs die rustige waters van Suid-Afrika se grootste dam.

Neem ’n blaaskans langs die Gariepdam ná ’n bedrywige jaar. Foto: Morné van Rooyen

• Die Vrystaat se oudste dorp, Philippolis, is ’n kleiner en stiller weergawe van gewilde toeristedorpe soos Clarens, Parys of Dullstroom. Verken die ou geboue te voet, besoek die kunsgalery, snuffel in die winkels en sluit jou besoek af met ’n ete in een van die talle eetplekke met iets vir elke smaak. Dis net 160 km suid van Bloemfontein. Besoek die dorp se webtuiste vir nog inligting.

• Nog ’n dorp met ’n ryke geskiedenis is Colesberg, so twee uur se ry suid van Bloemfontein met die N1. Die dorpsmuseum beeld die geskiedenis van dié omgewing uit wat 200 jaar gelede die wilde weste van Suid-Afrika was. Die omgewing se natuurlewe word in talle reservate bewaar. Besoek SA Venues vir nog inligting.

Colesberg wemel van die geskiedenis. Sy Dopperkerkie is die naasoudste in die land wat steeds in gebruik is. Foto: Morné van Rooyen

• Die Nasionale Golden Gate-Hooglandpark is ook sowat 200 km vanaf Bloemfontein, maar noordoos. Raak meegevoer deur asemrowende vistas in dié bergryke reservaat, kry oefening én vars lug op ’n voetslaanroete of ry sommer net stadig terwyl jy kort-kort stilhou vir nog ’n natuurfoto. SANParke het nog inligting.

Selfs al klim jy nie uit jou motor nie, sal die Golden Gate-omgewing jou siel verkwik. Foto: Morné van Rooyen

Bethlehem

Inwoners van die beeldskone Oos-Vrystaat durf nie by die huis sit wanneer daar soveel binne ’n uur of twee se ry is om te verken nie. Benewens die Golden Gate-Hooglandpark bied die omgewing ook:

Clarens sit iets voor vir elke smaak. Foto: Morné van Rooyen

Clarens, 60 km vanaf Bethlehem, het geen bekendstelling nodig nie. Besoekers van Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal stroom vakansietye na seker die interessantste plattelandse dorp in Suider-Afrika met uiteenlopende koop-, eet- en vermaakgeleenthede. Die restaurante voorsien in elke smaak, van hamburgers en chips tot fynproewersgeregte, die winkelrakke kreun onder unieke ware en die vrolike atmosfeer verdryf enige olikheid in ’n oogwink. Oortuig jouself met ’n besoek aan die dorp se toerismewebtuiste.

Harrismith is die bedrywige poort na KZN vir besoekers uit die binneland. Maar dit sal jou loon om ’n slag stil te hou en hier te vertoef. Bring jou bergfiets saam en durf ’n prentjiemooi roete aan of slaan voet in die mooi natuurskoon. So nie, verken die plaaslike museum, kunsvlytmark of ’n Boereoorlog-slagveld. Besoek Harrismith se webtuiste vir nog inligting.

Verken die omgewing van Suid-Afrika se derde grootste dam. Foto: Agoda.com

• Die Sterkfonteindam is Suid-Afrika se derde grootste dam en ’n wonderwêreld vir natuurliefhebbers. Besoek die natuurreservaat op ’n daguitstappie vir voetslaan, hengel en wildritte om weg te kom en jou kragte te herwin vir 2025. Besoek SA Venues vir nog inligting.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.