On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Entertainment

Kimberley, Klerksdorp: Hier’s idees vir daguitstappies dié feestyd

───   MORNÉ VAN ROOYEN 07:00 Tue, 05 Nov 2024

Kimberley, Klerksdorp: Hier’s idees vir daguitstappies dié feestyd | News Article
Jy hoef nie see toe te gaan om pret te hê nie. Foto: SA Toerisme

Nie almal kan vanjaar bekostig om by die see uit te span ná ’n jaar van stygende lewenskoste en steeds hemelhoë rentekoerse nie.

Ons neem jou saam op daguitstappies binne 200 km vanaf jou stad of dorp in Sentraal-Suid-Afrika. Besoek ons webtuiste gereeld vir nog bestemmings in die aanloop tot die groot blaaskans.

Kimberley

  • Verbreed jou kennis van die geskiedenis dié Kersvakansie met ’n besoek aan die Magersfontein-slagveld, 40 km suid van die Diamantstad. Dit herdenk die Slag van Magersfontein tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899–1902). Die terrein is daagliks oop vanaf 08:00. Besoek die McGregor-museum se webtuiste vir nog inligting.

Die Magersfontein-slagveld bied ’n blik op ons ryk verlede. Foto: McGregor-museum

  • By die Wildebeest Kuil-rotskunssentrum aan die buitewyke van die stad kan besoekers sowat 400 rotskunswerke teen ’n klein heuwel sien. Die besoekersentrum het inligtingsuitstallings oor die streek se kulturele geskiedenis. Dis weekdae oop van 09:00 tot 16:00 en Saterdae en vakansiedae van 10:00 tot 16:00. Die McGregor-museum se webtuiste het ook meer inligting.

Bespreek ’n wildrit in die Mokalapark naby Kimberley. Foto: SANParke

  • Dagbesoekers moet onthou om hul ID saam te bring om in aanmerking te kom vir die SA toegangsfooi na die Nasionale Mokalapark, 60 km suid van Kimberley. Dié park is in 2007 geproklameer en beslaan sowat 20 000 ha. Benewens ’n verskeidenheid diere bevat dit ook uiteenlopende voëlspesies. Neem jou eie verversings saam en onthou dit kan bloedig warm word in die somer. Besoek BirdLife SA se webtuiste vir nog inligting.

Klerksdorp

Inwoners van die KOSH-gebied het dié Kersvakansie geen verskoning om met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie.

  • Die Nasionale Pilanesbergpark is ’n uur se ry van Klerksdorp af en huisves die Groot Vyf. Bespreek ’n wildkykrit of durf ’n voetslaanroete aan. Dit word nie verniet as Suid-Afrika se mees toeganklike nasionale park beskryf nie. As jy besluit om te oornag is daar volop opsies, maar jy moes waarskynlik nou al bespreek het. Besoek Pilanesberg se webtuiste vir nog inligting.

Sun City bied veel meer as net dobbelgeleenthede. Foto: Sun International.

Sun City bly ná al die jare ’n gunstelingbestemming, ook vir dagbesoekers. Dis net 100 km vanaf Klerksdorp geleë. Dit bied iets van alles: vermaak vir oud en jonk, eetplekke te kies en te keur, winkels, ’n gevierde gholfbaan, waterpark, noem maar op. Kom alles te wete voor jy in die pad val op die oord se webtuiste.

Hartbeespoortdam is die ideale alternatief vir ’n seevakansie. Foto: Facebook/Drone Fanatics SA

• Die verkeer kan in die feestyd nogal druk raak rondom Hartbeespoortdam, maar dis omdat soveel mense al die sjarme van dié bestemming net 160 km vanaf Klerksdorp ontdek het. Vaar in ’n boot, smul aan watertandgeregte in die restaurante, snuffel in die winkels of onderneem ’n sweefspoorrit. Vir nog moontlikhede, besoek die plaaslike toerismeburo se webtuiste.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.