On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Antwoorde geëis oor verantwoordelikheid vir Noord-Kaapse straatligte

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:19 Wed, 30 Apr 2025

Antwoorde geëis oor verantwoordelikheid vir Noord-Kaapse straatligte | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

’n Formele aansoek is by Eskom ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ná verskeie onsuksesvolle pogings om vas te stel wie verantwoordelik is vir die herstel en onderhoud van straatligte in die Noord-Kaap.

“AfriForum was verplig om die Paia-aansoek in te dien weens die verslegtende toestand van straatbeligting op Kathu, Olifantshoek en Deben. Daar is nou meer (onklaar) as werkende straatligte,” sê Lize-Mari Smit, distrikskoördineerder vir die Karoostreek.

Sy sê swak onderhoue of gebreekte straatligte hou ’n ernstige veiligheidsrisiko vir die gemeenskap in. “Hulle bied dekking vir kriminele aktiwiteite en stel motoriste in gevaar weens onvoldoende padbeligting.”


Volgens Smit het sy en die voorsitter van AfriForum se Kathu-tak, Johan Snyman, op twee afsonderlike geleenthede met Emanuel Estevao, Gamagara-munisipaliteit se hoof van tegniese dienste, geskakel oor die straatligte. Estevao het hulle na Eskom se senior toesighouer vir die Noord-Kaap, Victor Andreas, verwys en gesê dat Eskom verantwoordelik is vir die herstel en instandhouding van straatligte.

LEES OOK: Kommer heers in Noord-Kaap oor beweerde onwettige naamsveranderinge

Andreas het dit egter weerspreek en gesê dat die munisipaliteit – nie Eskom nie – verantwoordelik is kragtens ’n ooreenkoms tussen die twee entiteite. “Tot op hede het AfriForum nog nie ’n afskrif van hierdie ooreenkoms ontvang nie,” sê Smit.

Sy sê AfriForum het probeer bemiddel deur ’n vergadering tussen Estevao en Andreas te reël om verantwoordelikhede te verduidelik en die bestaan van die beweerde ooreenkoms te bevestig. “Ten spyte van verskeie pogings het hierdie vergadering nooit plaasgevind nie.

“Ons het nou besluit om Eskom te dwing om die nodige inligting vry te stel. Die gemeenskap ly terwyl Eskom en die munisipaliteit steeds die skuld verskuif sonder om enige konkrete antwoorde te verskaf.”

Eskom, munisipaliteit moet hul plig nakom

Smit sê in die Paia-aansoek versoek AfriForum, onder meer, ’n afskrif van die ooreenkoms tussen Eskom en Gamagara, enige korrespondensie wat die munisipaliteit se verpligtinge bevestig, en die datum waarop die ooreenkoms gesluit is. “Dit gaan fundamenteel daaroor dat Eskom en die munisipaliteit hul plig teenoor die gemeenskap nakom. Onvoldoende straatbeligting is ’n ernstige veiligheidskwessie, veral in landelike gebiede.

“Ons buurtwagte rapporteer gereeld voorvalle waarby diere soos donkies, bokke en skape betrokke is wat die paaie oorsteek. Terwyl motoriste aangespoor word om versigtig te wees, kan hulle nie die volle las van padveiligheid dra nie. Eskom of die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem,” sê Smit.

AfriForum het ook belangstelling uitgespreek om met verteenwoordigers van die munisipaliteit sowel as Eskom te beraadslaag om die dokumente te hersien en te bespreek sodra dit beskikbaar gestel word.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.