On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Polisie waarsku teen nuwe aanlyn slenter

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:37 Wed, 30 Apr 2025

Polisie waarsku teen nuwe aanlyn slenter | News Article
Foto iStock

Die Noord-Kaapse polisie waarsku die publiek teen ’n nuwe aanlyn slenter waarin bedrieërs slagoffers vra om ’n eenmalige PIN (OTP) aan hulle te stuur.

Die polisie maan aanlyn gebruikers om wakker te loop in die lig van die nuwe bedrogspul wat onlangs opgeduik het, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

“Tydens ondersoeke het beamptes ’n skema geïdentifiseer waarin slagoffers WhatsApps ontvang van mense wat blykbaar in hul kontaklys is. Omdat hierdie boodskappe van bekende kontakte afkomstig is, lyk hulle betroubaar.”

Sy sê die inhoud sluit egter ’n versoek in om aan ’n opname deel te neem en vra die ontvanger om ’n eenmalige PIN (OTP) te verskaf. “Sodra die niksvermoedende slagoffer die OTP ontvang, word hulle gevra om dit terug te stuur na die persoon van wie hulle dit oorspronklik ontvang het,” sê Ehlers.

Daar word geglo dat bedrieërs dan hierdie OTP gebruik om ongemagtigde toegang tot die slagoffer se bankrekeninge te verkry.

Ehlers sê die polisie raai alle aanlyn gebruikers aan om die identiteit van enigiemand wat sensitiewe inligting aanvra, te verifieer en nooit ’n OTP te deel tensy hulle die versoek persoonlik geïnisieer het nie.

Dit is belangrik om daarop te let dat wettige bankinstellings nie ongevraagde OTP’s stuur of kliënte vra om dit aan te stuur nie.

Die publiek word ook daaraan herinner:

- Moet nooit jou bankkaartnommer, PIN of ander vertroulike bankinligting elektronies deel nie – veral nie met onbekende bronne nie.

- Wees versigtig vir aanbiedinge wat te goed lyk om waar te wees.

- Wees altyd versigtig wanneer jy aanlyn kommunikasie met ’n persoon het. Indien jy twyfel, kontak jou bank of die polisie direk.

Verdagte aktiwiteite kan aangemeld word via die MySAPS-app of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

In die geval van afpersing kan die nasionale hulplyn by 0800 911 011 gebel word.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.