Central SA
Stoetrotte steel die kollig by Bloemskou se Plaaswerfsaal─── 12:15 Wed, 30 Apr 2025

Tussen die gewone troeteldiere soos hasies, hoenders en skilpaaie by die Bloemskou se Plaaswerfsaal, is daar vanjaar ’n verrassende ster: stoetrotte, of soos hulle in die gemeenskap bekend staan, “fancy rats”.
Abby Wiese, ’n plaaslike teler van hierdie unieke troeteldiere, wys trots haar rotte aan nuuskierige skougangers.
“Ons rotte is al meer as 300 jaar lank doelbewus geteel om mak en liefdevolle troeteldiere te wees. Dis ’n wêreld se verskil tussen ’n veldrot en ’n 'fancy rat'. Dis soos om ’n Jack Russell met ’n wolf te vergelyk.”
Wiese het haar eerste rot op 12 gekry en teel reeds die afgelope drie jaar aktief stamboomrotte in Bloemfontein. Sy sê belangstelling groei vinnig sodra mense besef hoe sosiaal, slim en liefdevol die diertjies is.
“Hulle is soos klein hondjies – hulle ken hul name, kan truuks leer en vorm sterk bande met hul eienaars. Dis die ideale troeteldier vir mense met beperkte ruimte of waar honde nie toegelaat word nie.”
Die rotte eet meestal ’n gebalanseerde dieet van grane, sade en vars kos wat Wiese self voorberei. “Hulle is omnivore, so dit maak voeding ook maklik en aanpasbaar.”
Vir die eerste keer is hierdie besondere troeteldiere deel van die Bloemskou-uitstalling en Wiese hoop dit sal help om vooroordele teen rotte af te breek. “Ek hoor gereeld: ‘Ek het nie geweet rotte kan so oulik wees nie.’ Mense verander hul siening sodra hulle die diertjies in aksie sien.”