Central SA
Vrystaatse polisie soek verdagte oor seksuele aanranding─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:45 Wed, 16 Apr 2025

Die polisie in die Vrystaat het ’n soektog van stapel gestuur na ’n verdagte in verband met ’n klag van seksuele aanranding.
Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Welkom vra die publiek se hulp om ’n persoon van belang op te spoor, sê sers. Palesa Thabana, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die polisie sê die slagoffer (25) het op 5 Augustus verlede jaar in Kutlwanong, Odendaalsrus, op die taxistaanplek staan en wag toe die bestuurder van ’n wit Hyundai haar ’n saamrygeleentheid na K5 Section aangebied het. Hulle het glo in die ry stry gekry, waarna die bestuurder toe glo van koers verander en Welkom toe gery het.
‘Slagoffer het daarin geslaag om te ontsnap deur uit die voertuig te spring’
Volgens Thabana het die verdagte ’n lap oor die slagoffer se gesig geplaas het, wat veroorsaak het dat sy haar bewussyn verloor het, voordat hy haar na bewering verkrag het.
“Nadat sy bygekom het, het die slagoffer daarin geslaag om te ontsnap deur uit die voertuig te spring en hulp te soek.” Die verdagte is ongeveer 1,7 m lank, is middelmatig gebou en vermoedelik tussen 30 en 35 jaar oud.
Die polisie vra hulp om dié vermeende bedrieër te help opspoor. Foto verskaf
Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte op te spoor, word versoek om ao. Mandie Jacobs van die Welkom-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe by 082 490 6455 te nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Die polisie in Viljoenskroon is ook op soek na ’n verdagte wat met ’n bedrogsaak verbind word.
’n Lasbrief vir die inhegtenisneming van Celiwe Ndawonde is uitgereik, sê, sers. Josephine Rani provinsiale, polisiewoordvoerder.
‘Onmiddellike betaling van R86 917’
“’n Saak van bedrog is op 12 Oktober 2023 geopen nadat ’n tender aan die klaer toegeken is om rugsakke te verskaf. Die klaer het ’n verskaffer betrek wat blykbaar in staat was om die items af te lewer, en het ’n onmiddellike betaling van R86 917 gemaak, met die verstandhouding dat aflewering binne 24 uur sou plaasvind.”
Volgens Rani is geen aflewering egter gemaak nie.
Enigiemand met inligting oor die verdagte se verblyfplek word versoek om speurder George Nkoane by 083 822 5834 te nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus mvh