Central SA
Soektog begin na Noord-Kaapse vrou─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:40 Wed, 16 Apr 2025

Noord-Kaapse polisie vra die publiek moet help om ’n vrou op te spoor wat al twee weke lank vermis word.
Die Sunrise-polisie op De Aar soek na Litwina Johnson (32) wat op dié Karoodorp as vermis aangemeld is.
“Sy is laas op 29 Maart om 19:30 by haar kêrel se huis in Malaykamp gesien,” sê lt.kol Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder. Blykbaar het sy by sy huis oorgeslaap en sy is sedertdien nie weer gesien nie.
Raymond Oberholzer. Foto: raymondoberholzer.com
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor wat die vermiste person is om speursers. Ettiene Greef by 082 448 6226 te nader. Die publiek word daaraan herinner dat daar geen wagtydperk is om ’n vermiste persoon aan te meld nie.
Intussen is die man wat al vyf dae vermis is nadat hy die Nasionale Augrabies-park besoek het, steeds nie opgespoor nie.
Die 66-jarige Kapenaar, Raymond Oberholzer, het glo Donderdag (10/4) by die waterval aangekom en die volgende dag gaan stap, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.
‘Persoonlike besittings en voertuig was nog in die park’
“Toe hy nie teen 16:30 teruggekeer het nie, het parkwagters bekommerd geraak en die saak dadelik by die Augrabies SAPD aangemeld. Sy persoonlike besittings en voertuig was nog in die park.”
’n Uitgebreide soektog is onmiddellik ná sy verdwyning van stapel gestuur.
Ehlers het bevestig dat polisiebeamptes van Augrabies, die lugvleuel, Upington se soek-en-reddingseenheid, die plaaslike honde-eenheid en ’n hommeltuigoperateur almal aktief betrokke is by die deurlopende soektog. Die Noord-Kaapse polisie wil die publiek herinner geen wagtydperk geld om vermiste mense aan te meld nie.
Maak só wanneer iemand vermis word
- Verskaf ’n onlangse foto van die vermiste persoon, indien moontlik;
- Gee ’n volledige beskrywing van die vermiste persoon se laaste woonplek, klere wat hulle gedra het, asook enige inligting wat die ondersoekbeampte kan help;
- Voltooi en onderteken ’n SAPD 55(A)-vorm. Hierdie vorm beskerm die polisie teen gekskeerdery en vrywaar hulle om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei;
- Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en stuur enige bykomende inligting wat beskikbaar word direk aan hom/haar; en
- As ’n vermiste gevind word of vrywillig terugkeer, stel die ondersoekbeampte onmiddellik in kennis. ’n SAPD 92-vorm moet voltooi word om die buro vir vermiste persone in kennis te stel, sodat die vermiste persoon se verslag uit die sirkulasiestelsel gehaal kan word.
OFM Nuus mvh