On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with OFM
Listen Live Streams

Central SA

NWU reageer ná beweerde sangoma-voorval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:10 Wed, 16 Apr 2025

NWU reageer ná beweerde sangoma-voorval | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

Die universiteit waar ’n sangoma-voorval na bewering in ’n vrouekoshuis plaasgevind het, sê hy hy bly verbind tot “diversiteit, inklusiwiteit, respek, inagneming en verdraagsaamheid van godsdienstige en kulturele praktyke”.

Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom het bevestig dat ’n voorval Sondag (13/4) in ’n koshuis plaasgevind het “wat na bewering verband hou met godsdienstige of geestelike praktyke”. 

Die NWU verkies om nie die koshuis se naam bekend te maak nie. 


Yvonne Gerber, van AfriForum Jeug, sê studente het omstreeks 22:10 ’n voorval aangemeld waar ’n student deelgeneem het aan ’n “ritueel deur ’n sangoma wat met bloedstollende gille gepaardgegaan het.” 

“Klank- en video-opnames wat studente van die spesifieke koshuis aan AfriForum Jeug gestuur het, vang duidelik die gille vas, vermoedelik van die student wat deur die sangoma behandel is.” Sy sê dat die voorval “uiterste vrees en angs onder mede-inwoners veroorsaak het”.

Volgens die universiteit word die voorval ondersoek en hy verseker dat “alle betrokke en geaffekteerde persone die nodige ondersteuning en billike geleentheid ontvang om vertoë te rig. Ons doen ’n beroep op alle belanghebbendes om die privaatheid van alle geaffekteerde en betrokke individue te respekteer.”

Noordwes-Universiteit. Foto: NWU

NWU bevestig sy reëls en prosedures sal gevolg word in die ondersoek. Hy sê hy is daartoe verbind om ’n “dinamiese en bevorderlike studente-omgewing in alle koshuise (op) ons drie kampusse te bevorder”.

AfriForum Jeug is intussen ingelig dat dit nie die eerste sangoma-verwante voorval in dié koshuis is nie. “Sowat ’n maand gelede, ná ’n soortgelyke gebeurtenis, het verskeie bekommerde studente die koshuismoeder genader om hul kommer uit te spreek,” voeg Gerber by.

Tog is soortgelyke bekommernisse voorheen (verontagsaam). Dit is duidelik dat die koshuisbestuur nie die emosionele en sielkundige tol begryp wat sulke gebeure op ander studente kan hê nie. Baie vrouestudente voel nou onveilig in die koshuis, sê Gerber, terwyl sommige nie meer gemaklik in hul eie kamer of gedeelde gemeenskaplike gebiede is nie".

OFM Nuus lh/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.